
’n Student het bloeding op die brein opgedoen, sy kakebeen op drie plekke gebreek, sy wangbeen was vergruis en hy het verskeie skrape en snye aan sy arms en bene opgedoen, toe hy op sy fiets deur ‘n motor getref is.
So het ’n kort rit op ’n fiets binne ’n oogwink verander in ’n situasie waar hy die dood in die oë gestaar het.
Ryan Cullinan (23), meestersgraadstudent aan die NWU, is Sondagmiddag (11 Maart) omstreeks 16:30 op sy fiets deur ’n voertuig getref terwyl hy na sy meisie op pad was. Die voertuig het na die ongeluk weggejaag.

“Ek het in die pad gery omdat die sypaadjie vol voetgangers was, maar seker gemaak dat ek amper teen die versperring ry om uit die pad van voertuie te wees,” vertel Cullinan.
Volgens hom het ’n wit sedanmotor hom op sy voorwiel getref, waarna hy gesig eerste oor die versperring op die sypaadjie beland het.
“Ek het omgerol en net swart gesien, ek het regtig gedink dat ek dood is. Volgens die mense wat my gehelp het, het dit gelyk asof ek begin stuipe kry,” vertel hy.
Volgens hom het daar ’n paartjie gestop om te help, wat selfs vir Cullinan gebid het omdat hulle ook onder die indruk was dat hy besig is om dood te gaan.
Die paartjie het sy selfoon uit sy sak gehaal, waarna hulle die NWU se beskermingsdienste geskakel het wat die ambulans ontbied het.
“Daai hele dag was vir my soos ’n droom, ek kan eers weer eintlik begin onthou nadat ek uit ongevalle by die hospitaal gekom het,” vertel hy.
Cullinan moes vir ’n noodoperasie Pretoria toe sodat staalplate in sy kakebeen en wangbeen aangebring kon word.
“Ek het amper my oog verloor omdat die frakture in my gesig so erg was. Dit is vir my baie erg, as die persone net gestop het om te kyk of ek lewe en dalk jammer gesê het, sou ek hulle vergewe het. Dit voel net asof hulle nie aan my as ’n mens gedink het nie, maar eerder as ’n dier of ’n insek wat raakgery is,” vertel hy.
Die ironie is dat Cullinan besig is met ’n meestersgraad in stads- en streeksbeplanning waar hy die tema van volhoubare vervoer-infrastruktuur ondersoek. Dit sluit onder meer in dat daar nie genoeg ruimte vir fietsryers en voetgangers in Potchefstroom beskikbaar is nie.

Hy het ook verlede jaar begin oefen vir ’n driekamp by Sun City, waaraan hy nou nie meer kan deelneem nie.
“Dit is baie frustrerend, want ek het baie hard geoefen om deel te neem en wou selfs volgende jaar aan die Ysterman driekamp deelneem. Nou word alles wat ek beplan het met ’n jaar aangeskuif,” het hy gesê.
Hy sê die pyn is steeds baie erg en dat hy sukkel om in die aand te slaap. Daar is glo ook ’n video van die voorval wat die rondte doen. Volgens hom het hy ook net gehoor van die video maar dit nog nie gesien nie.
Volgens Cullinan se pa, Roland, is dit baie traumaties om ’n mens se kind in so ‘n toestand te sien.
“As mens net meer mense kan bewus maak dat hulle moet uitkyk vir fietsryers, dan sal ek bly wees,” sê hy.
Enigiemand met inligting of wat gesien het wat gebeur, kan Roland by 082 801 2826 skakel.




