NewsNews

Geliefde apteker sterf in fratsongeluk

‘n Bekende en geliefde apteker van Potchefstroom is Vrydagaand in ‘n tragiese fratsongeluk in Pretoria dood toe sy verstik het.

‘n Bekende en geliefde apteker van Potchefstroom is Vrydagaand in ‘n tragiese fratsongeluk in Pretoria dood toe sy verstik het.
Zeta Erasmus het voor haar dood by Hendrik Naudé, eienaar van Medi Plus Apteek in Grimbeekpark gewerk. Sy het egter vir die langste gedeelte van haar lewe saam met Gawie van der Walt by Cachet Apteek gewerk.
Sy het die studente baie geniet en het somtyds soos ’n ma raad gegee of geraas as ’n student dit nodig gehad het. By Medi Plus Apteek was sy ook baie gelukkig en het lekker met die kliënte en personeel wat daar gewerk het, gesels. Zeta en Rudy het in 1973 vanaf Pretoria na Potchefstroom verhuis, waar Rudy ’n tandheelkundige praktyk geopen het. Later het hy by Medicross aangesluit en is tans afgetree.
Zeta word oorleef deur Rudy, hul twee kinders, Nicola (ook ’n apteker in Magaliesburg) en Theuns, sy vrou, Adél en twee kleinkinders, Mia en Ava wat in Doha, Qatar woon.
Zeta was ‘n kranige gholfspeler en haar gholfmaats was van haar beste vriende wat haar deur moeilike tye gedra het.
Sy laat ‘n groot leemte in die lewens van haar lojale vriende. Haar gesin sal haar altyd onthou vir haar sin vir humor, ondeunde grappe en natuurlik vir die heerlike wortelkoeke wat sy gebak het. Zeta se gedenkdiens word op Vrydag 23 Maart by die NG Kerk Grimbeekpark gehou.
* Die familie verkies dat geen blomme gestuur word nie en vra eerder skenkings vir droogtehulp of Gift of the Givers. Hulle bedank die gemeenskap en vriende vir al hul bystand en ondersteuning tydens hierdie moeilike tyd.

Related Articles

Back to top button