Persoonlike dankie aan ridder op ’n wit perd
Mev. Hettie Snyman wil graag die man wat Dinsdag, 20 Maart haar handsak en ander persoonlike items aan haar terugbesorg het, bedank. Sy het op dié dag ’n oomblik ondervind wat elke Suid-Afrikaner daagliks vrees, toe sy deur twee mans beroof is. Na ’n vinnige inkopie-uitstappie na die Wandellaan, het haar dag vinnig in ’n …
Mev. Hettie Snyman wil graag die man wat Dinsdag, 20 Maart haar handsak en ander persoonlike items aan haar terugbesorg het, bedank.
Sy het op dié dag ’n oomblik ondervind wat elke Suid-Afrikaner daagliks vrees, toe sy deur twee mans beroof is.
Na ’n vinnige inkopie-uitstappie na die Wandellaan, het haar dag vinnig in ’n nagmerrie ontaard.
Nadat sy haar inkopies gedoen het, is sy deur haar twee aanvallers by haar motor ingewag. Na ’n struweling tussen haar en haar aanvallers, het hulle haar handsak uit die kar gesteel waarin al haar en haar man se bankkaarte, haar selfoon en ander dokumentasie gesteel is. Haar aanvallers was reeds na die donker hoekies van die Wandellaan op pad.
Sy het gedink dat sy nooit weer haar persoonlike besittings gaan terugkry nie en alles weer van voor af moet bekom, van SASSA-kaarte tot identiteitsdokumente.
Skielik het sy ’n man gesien wat soos blits agter haar aanvallers aanhardloop. Die volgende oomblik het hy voor haar gestaan met wat sy beskryf as haar hele lewe in sy hande.
Steeds geskok, het sy die man bedank, in haar motor geklim en huis toe gery. Snyman wil graag die man kontak wat op dié donker dag haar held was.
“Ek wil net graag self vir hom dankie sê. Met alles wat gebeur het, het ek nooit gedink om sy naam of enige inligting te vra nie. Ek wou net so gou moontlik daar wegkom,” sê Snyman.
Snyman se weldoener word gevra om haar asseblief by 083 222 5414 te skakel vir ’n ontmoeting en ’n baie groot dankie.



