
Baby Button Collection (BBC) wil ’n verskil maak in ’n Potchefstroomse baba se lewe, deur een van hulle pragtige kwilt-stelletjies te skenk.
BBC maak baba kwiltkomberse en spoegdoeke en poog om drie keer per jaar twee stelle, een vir ’n babaseun en een vir ’n babadogter, te skenk.
Die doel van hierdie skenkings is om ’n verskil te maak in die lewe van ’n baie behoeftige en swanger ma, sodat wanneer die baba sy ogies oopmaak, hy iets mooi en spesiaal het om aan vas te hou.
’n Stel sluit die kwiltkombersie, kussing met sloop en spoegdoek in.
Anne-marie Cilliers maak reeds vir ses jaar babakwilts vir haar twee kleindogters. Dit is hoe haar passie hiervoor begin het. Sy het toe begin om meer van die kwilts te maak om te verkoop. Sy en haar suster het toe besluit om BBC te begin en saam die kwilts te begin maak.
Hulle verkoop ook maandeliks die kwiltprodukte by die Snowflake Mark. Hulle maak alles, van spoegdoeke, waslappies, handdoeke en kwiltkombersies, elk met ’n kussing en sloop.
“Omdat ons in ons stad ondersteun word, wil ons graag kwartaalliks aan die gemeenskap iets teruggee. Ons wil graag ’n loting hou waar ons vir baie behoeftige mense die skenking wil maak, een vir ‘n seuntjie en een vir ’n dogtertjie,” sê Anne-marie.
Behoeftige ma’s met babas op pad kan hul naam, van, naam en geslag van die baba, asook ‘n motivering e-pos na marianke.saayman@media24.com met BBC as die onderwerp van die e-pos. Inskrywings sluit Dinsdag 1 Mei om 14:00, waarna die trekking sal plaasvind.
Die wenners sal in die daaropvolgende Herald van 3 Mei verskyn.




