
‘n Babaseun (1) is Maandagmiddag omstreeks 17:00 deur die polisie hospitaal toe geneem.
Dit nadat hy vir etlike ure alleen in ‘n woonstel gelos is.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, is die polisie deur mense wat in ’n woonstelblok in Walter Sisulu-straat woon, geskakel.
Hulle het gesê daar is ’n baba in een van die woonstelle wat onophoudelik huil. Manyoba sê die vrou wat hulle geskakel het, het gesê die baba huil al sedert die vroeë oggendure.
Volgens Manyoba het polisiebeamptes toegang tot die woonstel verkry.
Dit was baie donker en baie vuil.
Die baba se doek was nat en dit was duidelik dat die baba, wat maar ‘n jaar oud is, nie in ’n goeie fisiese toestand was nie.
Die beamptes het maatskaplike werkers in kennis gestel, waarna hy hospitaal toe geneem is om ondersoek te word. By verdere ondersoek is vasgestel dat die baba se ma blykbaar ’n prostituut is wat in Klerksdorp werk.
Die ma het glo ’n ooreenkoms met ander prostitute om na die kind om te sien. Die polisie het later ’n vrou, wat veronderstel was om na die seuntjie om te sien, by ’n kroeg opgespoor. Tydens ondervraging het dié vrou egter gesê dit is nie haar kind nie, daarom is dit nie haar verantwoordelikheid nie.
Die ma het daarop aangedring om haar kind weer huis toe te neem, maar haar versoek is geweier.
Manyoba het gesê ’n saak van verwaarlosing van ’n kind word ondersoek.
Die baba sal na ’n plek van veilige bewaring geneem word waar hy versorg sal word.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/49336/polisie-red-baba-1-wat-ure-alleen-woonstel/