“Sonder dié spesifieke brandweerwa sal die munisipaliteit nie in staat wees om groot struktuurbrande te beheer nie.”
Dit is die mening van ’n voormalige brandweerhoof van Potchefstroom.
Die Herald het in April berig volgens die munisipaliteit se jaarverslaé is daar R4,5 miljoen bestee vir die aankoop van ‘n nuwe brandweerwa.
In die verslag is die taak as afgehandel aangedui, maar die brandweerwa is egter nêrens te sien nie.
Munisipale woordvoerder, Willie Maphosa, het destyds aan die Herald gesê dat die vervaardiging van die betrokke brandweerwa in fases geskied. Daarom word dit op die verslag as afgehandel aangedui, maar dat dit moontlik slegs op een fase dui.
In Mei het hy gesê hulle vermoed dat die brandweerwa binnekort afgelewer sal word.
Die Herald het intussen inligting bekom dat daar nog geen geld aan die maatskappy, wat die brandweerwa moet vervaardig, betaal is nie.
Dié maatskappy, Fire Raiders, het om dié rede glo alle werk aan die vervaardiging van die brandweerwa gestaak.
Fire Raiders het teen druktyd nie op navrae van die Herald gereageer nie.
Volgens mnr. Flip van Staden, voormalige brandweerhoof, is die risiko van so aard dat die brandweer tans slegs die toerusting het om veld- en kleiner woonhuisbrande effektief te kan bestry.
“Daar moet eintlik twee van die groot brandweerwaens wees. Vir ingeval die een besig is, daar nog een is wat gebruik kan word. Die feit dat daar glad nie een is nie, is kommerwekkend,” sê hy.
Volgens hom is dit moontlik dat groot strukture heeltemal kan afbrand omdat die brandweer nie die nodige toerusting het nie.
Hy is van mening dat, behalwe vir lewensverlies, versekeringsmaatskappye erg onder so ’n risiko deurloop omdat hulle die finansiële risiko dra.
Hy sê by ander munisipaliteite is daar reeds privaat brandweerdienste. Dié diens werk met vrywilligers en word in ’n groot mate deur versekeringsmaatskappye gefinansier.
“Dit is omdat daar nie altyd meer op die diens van munisipaliteite alleen staatgemaak kan word nie,” verduidelik hy.
Volgens Maphosa is die waarnemende munisipale bestuurder sowel as die hoof finansiële beampte besig om die aangeleentheid te hanteer.
“’n Paar kwessies oor die ooreenkoms word aangespreek en die proses is nog aan die gang,” het Maphosa gesê.
Volgens hom is die munisipaliteit bewus van die risiko en daarom werk hulle saam met die weermag en Working on Fire om die risiko van brande te verminder.




