
Volgens ‘n omsendskrywe aan sy lede sê die SA Jagters en Wildbewaringsvereniging (SAJWV) dat enigeen wat reeds vuurwapens ingehandig het omdat die lisensies verval het die reg het om daardie wapens by die Polisie terug te vra.
Dit volg na aanleiding van die uitspraak in Gun Owners SA (GOSA) se dringende aansoek in die hooggeregshof.
Fred Camphor, hoof uitvoerende beampte van die SAJWV, sê ingevolge ‘n kennisgewing wat die Kommissaris van Polisie aan alle Afdelingskommissarisse gestuur het word twee belangrike aspekte uitgelig.
Eerstens gee die kommissaris opdrag dat alle aanwysings en aktiwiteite oor die inhandig van wapens, bloot omdat die lisensies daarvan verval het, onverwyld gestaak moet word. Dit staan egter enige individue vry om vrywillig wapens in te handig.
Tweedens dat enigeen wat reeds wapens ingehandig het omdat die lisensies verval het die reg het om daardie wapens by die Polisie terug te vra. Die wapen moet op versoek aan die betrokke individue teruggegee word.



