By Volkies is ons ernstig oor krieket- en krieketontwikkeling.
Ons lê klem op die belangrikheid van goeie werksetiek in die klaskamer en op die sportveld. Volkies-krieket is kompeterend binne die grense van goeie sportmanskap en ons het ‘n trotse rekord van goeie gedrag van ons spelers op en van die veld af.
Hier volg ‘n kort opsomming van wat ons by Volkies doen in terme van krieketontwikkeling en wat ons die afgelope paar jaar bereik het.

Volgehoue prestasie van spanne:
• Onder 15A-span is wenners van die Noordwes-liga vanaf 2014 – 2017.
• Onder 15B-span is wenners van die Noordwes-liga vanaf 2016 – 2017.
• Die Eerstespan het die Noordwes Coca-Cola T20-kompetisie vir drie jaar vanaf 2015 – 2017 gewen.
• In 2015 verteenwoordig ons die Leeus-franchise in Stellenbosch by die nasionale Coca-Cola T20-toernooi, waar ons Grey College van Bloemfontein gewen het.
• Die Eerstespan is wenners van die Noordwes-liga in 2017.
Ons skool se eie krieketakademie:
• Volkies-krieket het tans 50 hoërskoolleerdes wat vir 11 maande van die jaar aktief afgerig word.
• Ons twee hoofafrigters beskik oor vlak 3-kwalifikasies.
• Alle ander afrigters het vlak 1- of vlak 2-kwalifikasies, of is tans besig om te kwalifiseer.
• Ons gebruik gekwalifiseerde buite-afrigters om sekere dissiplines te help bemeester.
Vriendskaplike wedstryde teen ander skole:
• Volkies-krieket speel twee keer per jaar ‘n vriendskaplike wedstryd teen Jeppe Boys High.
• Ons het ook ‘n jaarlikse vriendskaplike wedstryd teen Affies.
• Vriendskaplike wedstryde word gespeel teen Hoërskool Menlopark, Hoërskool Waterkloof en ander bekende krieketskole waar moontlik.
Ander punte van belang:
• Die afgelope twee jaar kompeteer Volkies in die Finsbury-liga se A-afdeling. Teenstanders sluit in Hoërskool Waterkloof, Hoërskool Menlopark, Hoërskool Centurion, Hoërskool Nelspruit en Hoërskool Monument.
• Wenners van die Noordvaal-kompetisie (voorheen die Administrateursbeker) by 22 geleenthede.
• Konsekwent gelys in die Top 35-skole in die land die afgelope vier jaar.
• Oor die afgelope vyf jaar het talle spelers Noordwes se provinsiale spanne in CSA-weke verteenwoordig.
• Gedurende die 2016-seisoen was al die kapteins van die onderskeie Noordwes hoërskoolspanne op kriekettoernooie, trotse Volkies.
• Die Noordwes 2017 Krieketspeler van die Jaar-toekennings vir o.13, o.15 en o.19 het na Volkie-krieketspelers gegaan.
• Een van ons spelers, Louis van Schalkwyk, is gekies vir die SA onder 19 toerspan na Engeland, is aangewys as kaptein van die SA Colts-span en het ook die meeste lopies gedurende die Coca-Cola o.19-toernooi behaal.
• Christopher de Freitas (o.15) is aangewys as die mees veelsydige speler (all-rounder) van die CSA Nasionale week vir o.15’s.
• Volkies is een van slegs sestien skole wat uitgenooi is na die nuwe nasionale T20-toernooi wat in September gespeel sal word.
Bedankings:
Dankie aan Hoër Volkskool Potchefstroom en sy personeel, die Beheerliggaam, al ons ondersteuners en ouers vir jul getroue en onvoorwaardelike ondersteuning.
Dankie aan die afrigters en die spelers vir jul toewyding en harde werk.
Aan al ons borge:
‘n Spesiale woord van dank aan Wohnen Verwe (Louwrens Snyman), Talisman Hire (Andries en Mari Jansen) en Red Mining Africa (Abe Pretorius) vir julle ruim borgskappe.
Volkies-krieket sien uit na ‘n opwindende nuwe seisoen, volgepak met krieket van die hoogste gehalte.




