SportSport

Volkies se Noordvaal-droom eindig

Beide spanne se kolfwerk het hul in die steek gelaat teen Waterkloof en Garsfontein.

Twee Pretoriaanse skole, Hoërskool Garsfontein en Hoërskool Waterkloof, het gesorg dat Hoër Volkskool se o.15- en eerste krieketspanne vandag (Saterdag, 31 Oktober) in die halfeindstryde van die Noordvaalbeker die knie buig.

Dit was nie die lekkerste manier om die maand af te sluit nie, maar Volkies kan steeds weet dat hulle ’n uitstekende seisoen beleef het.

Die eerste span het in ’n wegwedstryd teen Garsfontein in Pretoria te staan gekom en met vier paaltjies teen die Ysbere verloor. Volkies is vir 144 lopies in 36 boulbeurte uitgeboul. Riekert Kruger was weer eens goed op dreef met 54 (60 balle), maar sy paaltjie het Volkies se kolfbeurt van 100/2 na 144 almal uit laat eindig. Alzandro Potgieter (4/15) en Ruan Cuyler (3/44) was op hul stukke vir Garsfontein.

Met die bal het Volkies goeie veggees getoon en Garsfontein op 100/6 gehad. Joshua de Villiers het egter met ’n onoorwonne 79 (62 balle) die wedstryd vir die tuisspan beklink.

Zander Nel (2/33) was Volkies se beste bouler op die dag.

Volkies se o.15A’s kan nie tuisvoordeel benut nie

Die o.15A-span het ook met die kolf gesukkel in sy tuiswedstryd teen Waterkloof en is vir 141 lopies uitgeboul nadat die besoekers 233 aangeteken het.

Volkies se beste speler was ongetwyfeld Jean Liebenberg, wat 4/41 met die bal geneem en ook ’n uitstekende 60 (81 balle) met die kolf aangeteken het.

Moses Kgokong het goed gelyk maar is op 17 been voor paaltjie betrap. Foto: Wouter Pienaar

Waterkloof se openingspaar, Nicholis Campher (64 van 73 balle) en Burger de Villiers (62 van 101 balle), het met ’n vennootskap van 138 lopies ’n stewige grondslag gelê. Volkies het egter teruggeveg en Waterkloof tot 233/8 beperk.

Toe Volkies vroeg vir Daniel Jacobs (6) en Moses Kgokong (17) verloor, het die taak moeiliker geword. Liebenberg het bly veg, maar kon nie daarin slaag om kolwers te kry wat saam met hom die teiken kon najaag nie.

De Villiers het ’n speler-van-die-wedstryd-vertoning gelewer en ook 5/28 met die bal geneem.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button