NewsNews

Net een van honderde juweeltjies van ons mooi Stad

Dié ma van drie volwasse kinders sê die stad se geskiedenis het haar nog altyd geboei. Die saadjie vir haar nuutste boek is geplant nadat sy in 2012 ’n biografie oor die Potchefstromer Kenneth McArthur geskryf het. Hy het die Olimpiese marathon in 1912 in Swede gewen.

Oom Japie was ’n lywige man, maar nogtans ’n ywerige lid van die Potchefstroomse kommando in die Anglo-Boereoorlog.
Volgens oorlewering kon hy weens sy swaarlywigheid op ’n keer nie vinnig genoeg vir die Kakies vlug nie. Toe gaan lê hy in ’n sloot en maak of hy dood is. ’n Britse soldaat het voorgestel hulle steek hom met ’n bajonet om seker te maak hy’s dood, waarop ’n ander soldaat gesê het: “Nee, dis nie nodig nie. Hy’s lankal dood, kyk hoe opgeblaas is hy.”
So het oom Japie oorleef. Sy massiewe broek is vandag een van die snaaksste items in die Potchefstroomse museum, skryf dr. Lennie Gouws in haar boek Stories van/of Potchefstroom, wat pas verskyn het.
Dis een van honderde juweeltjies wat vervat is in Gouws, ’n vryskutskrywer en -joernalis, se boek. Dis saamgestel uit talle Afrikaanse en Engelse bydraes oor die geskiedenis van Potchefstroom sedert sy totstandkoming in 1838, wat Gouws deur die jare vir Potchefstroom Herald geskryf het.
Dié ma van drie volwasse kinders sê die stad se geskiedenis het haar nog altyd geboei. Die saadjie vir haar nuutste boek is geplant nadat sy in 2012 ’n biografie oor die Potchefstromer Kenneth McArthur geskryf het. Hy het die Olimpiese marathon in 1912 in Swede gewen.
Gouws se vertellings in die boek oor Potchefstroom, sy mense, instansies en gebeure word aanskoulik aangevul met talle geskiedkundige foto’s en items wat in die plaaslike museum te sien is.
Daar is hoofstukke oor onder meer “voor die Bult ’n stad was”, die geskiedkundige Eikelaan en bekende Potchefstromers soos die psalmberymer Totius en die digter TT Cloete.
Gouws vertel ook die verhaal agter Voortrekkergrafte wat nooit verwyder is nie en nou onder erwe op die Bult rus. Munisipale werkers het in 1957 ’n miernes oorkant die Teologiese Skool in Molenstraat oopgegrawe toe hulle op ’n verweerde kis met doodsbeendere afkom. Twee seuntjies het die hele petalje grootoog aanskou, skryf Gouws in haar boek.
Sy beskryf ook die geskiedenis van die Teologiese Skool en die rol wat hy gespeel het in die totstandkoming van die universiteit in Potchefstroom, nou die Noordwes-Universiteit. Die geskiedenis van die swart, bruin en Indiërgemeenskappe, die Jode en Swede wat Skandinawiëdrift naby Potchefstroom sy naam gegee het, word ook vertel.
Dan is daar natuurlik ’n hoofstuk oor “Saartje Maree”, wat in Potchefstroom gewoon het en op wie die bekende volksliedjie “Sarie Marais” gegrond is.
Verskeie rampe, onder meer die bom wat in 1974 in die Potchefstroomse landdroshof ontplof het, word ook opgediep.
Nog ’n hoofstuk word gewy aan die nostalgie van die leiwatervore wat lank deel was van Potchefstromers se daaglikse bestaan. Die vore het in 1972 opgedroog.
Potchefstromers kan die boek teen R280 bestel deur ’n e-pos te stuur aan Gouws na lenniegouws@gmail.com

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button