
’n Vrou het ’n klag van verkragting teen haar man by die polisie aanhangig gemaak, nadat sy na bewering herhaaldelik deur hom verkrag is.
Volgens ao. Mpho Manyoba, polisiewoordvoerder, het die man en vrou na drie weke wat hulle mekaar geken het, besluit om te trou.
“Volgens die slagoffer was daar nie fout met hulle verhouding, tot nadat hulle getroud is nie,” het Manyoba gesê. Nadat die man en vrou saam by ’n plek buite die stad ingetrek het, wou die man seks met sy vrou hê.
Sy het geweier, waarna die man na bewering op haar begin skree en met haar baklei het. Volgens Manyoba het die man die volgende dag weer probeer om seks met haar te hê. Die vrou het weer geweier, waarna hy glo begin het om haar aan haar hare rond te ruk.
Hy het haar klere afgeskeur en haar verkrag.
Volgens Manyoba het die man, terwyl hy haar verkrag het, ’n kussing oor haar gesig gedruk omdat sy aanhou skree het.
“Hy het haar aan haar hare rondgesleep, aangerand en selfs op haar urineer,” het Manyoba gesê.
Die man het haar vir die hele naweek herhaaldelik verkrag. Die voorval het tussen 20 Julie en 23 Julie plaasgevind. Die naam van die beskuldigde is aan die Herald bekend, maar omdat hy van seksuele misdryf aangekla word, kan sy naam nog nie genoem word nie.
Volgens Manyoba is niemand nog in hegtenis geneem nie, maar ’n saak van verkragting word ondersoek.



