NewsNews

Its Time Potch, het impak op die gemeenskap van Potcehfstroom

Vanjaar is die tweede agtereenvolgende jaar wat hierdie geleentheid gaan plaasvind. Ons wou weet of hierdie dag van gebed werklik ‘n verskil maak in die gemeenskap? Is dit die moeite werd? Wat het sedert verlede jaar verander?

It’s Time Potch vind vanjaar op 9 September in Olënpark Stadion plaas. Angus Buchan sal die gebedsbyeenkoms lei. Die hekke open om 12:00 en die hoofprogram begin om 15:00. Die dag word deur die hele gemeenskap van Potchefstroom aangebied en het ten doel om alle Potchefstromers, oor alle kultuur- en kerkgrense heen, in gebed en verootmoediging voor God byeen te bring.
Volgens ds. Willem Louw, koördineerder van die bestuur wat die biddag reël, dwing die nood in ons stad en land ons tot verootmoediging en gebed voor God. Hy sê: “God gebruik ook gebeure en omstandighede om die mens aan te spreek.
Misdaad, korrupsie, werkloosheid, swak dienslewering en ekonomiese onsekerheid is talle faktore wat ons as gemeenskap dwing om byeen te kom, ons voor God te verootmoedig en saam na oplossings te soek.”
Vanjaar is die tweede agtereenvolgende jaar wat hierdie geleentheid gaan plaasvind. Ons wou weet of hierdie dag van gebed werklik ‘n verskil maak in die gemeenskap? Is dit die moeite werd? Wat het sedert verlede jaar verander?
Ds. Willem is oortuig dat niks gebeur as ons nie daarvoor bid nie en sê: “Daar is talle voorbeelde van deurbrake wat gevolg het na verlede jaar se gebedsaamtrek. Net soos vele ander, het die stad en sy mense ook by Its’ Time Potch gebid oor die grootskaalse korrupsie in ons land en provinsie en gevra dat die Here moet ingryp. Dit het gebeur! Ons het ‘n nuwe president ontvang en ons provinsie staan onder nuwe leierskap en strenger bestuur. Ons glo ook ons stad gaan binnekort hierby baat!”
“God het ons ook geseën met ‘n geseënde reënseisoen. Voorts is daar groot deurbrake in die ontwikkeling van verhoudinge en samewerking in die stad. Kerkleiers het bv. nooit voorheen op so ’n groot skaal en op so ‘n gestruktureerde wyse in die stad saamgewerk, soos wat tans gebeur nie! Kerkleiers oor alle kultuurgrense en denominasies kom nou op ‘n gereelde wyse byeen om saam te bid vir sake van belang vir die stad en gemeenskap. Die Potchefstroomse Kerkleiers (PCL) het vir die eerste maal ‘n gevestigde kantoor met ‘n deeglike administrasie en kommunikasie struktuur. Ongeveer 190 geestelike leiers is reeds op die databasis.”
“Hierdie spontane samewerking het ook oorgespoel na die georganiseerde besigheid, verskeie NGO’s, die stadsraad en vele ander terreine. Verlede jaar en ook vanjaar met die reël van It’s Time Potch, het bv. al nege sekuriteitsmaatskappy in die stad hande gevat en besluit om gratis saam te werk om te help om hierdie dag moontlik te maak!
Samewerking tussen die Stadsraad en PCL het ook ontwikkel. Die kerk het die vergunning ontvang om weer die JB Marks Plaaslike Munisipaliteit se stadsraadsvergaderinge met Skriflesing en gebed te open. Iets wat in die onlangse verlede nie kon plaasvind nie. Kerkleiers raak ook nou formeel betrokke in misdaadgeteisterde gebiede en soek saam met die gemeenskap en ander rolspelers na oplossings.”
“Die samewerking om It’s Time Potch gratis in die Olënpark Stadion aan te bied is opsigself ’n kragtige getuienis. Die spontane samewerking tussen radiostasies en plaaslike koerante wat hul gewig ingooi om ‘n verskil in die gemeenskap te maak, is ‘n voorbeeld van samewerking. Verlede jaar het talle besighede, kerke en individue ook spontaan na vore getree en donasies gegee om die kostes te help delg. Ons bid, vertrou en glo dat dit vanjaar weer sal gebeur. Sedert verlede jaar se gebedsbyeenkoms het samewerking tussen die kerk en polisie vergroot en samewerking tussen die polisie en kerkleiers vind nou formeel op hoogste vlak plaas. Kerkleiers is ook formeel verteenwoordig op elke GPF. Dieselfde verhouding is ook tussen die Potch/Tlokwe sakekamer.”
* Meer inligting kan op facebook of by www.itstimepotch.co.za verkry word.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button