
‘n Man is vanoggend omstreeks 00:30 op die Bult met ‘n gebreekte bottel in die gesig gesteek.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, was dié maatskappy se beamptes op die Bult toe die voorval gebeur het.
‘n Groep het glo die een man met bottels aangeval waarna hy drie keer gesteek is. Die man het steekwonde op sy arm en ‘n baie ernstige snywond aan sy gesig. Die Herald het foto’s van die wond bekom, maar weens die grusame aard daarvan is besluit om dit nie te plaas nie.
Die groep aanvallers wou die man se vriend ook met die bottels aanval waarna ‘n beampte van Mooirivier Beskerming ingetree het. Hy het sy wapen op die groep gerig om te keer dat hulle nie ‘n tweede slagoffer aanval nie.
Die groep het in hul motor geklim en weggery. Mooirivier Beskerming het die polisie na die toneel ontbied wat die voertuig se registrasienommer geneem het.
Paramedici van ER24 was op die toneel om die beseerde man se wonde te behandel waarna hy na Mediclinic Potchefstroom geneem is vir verdere behandeling.
Die oorsaak van die onderonsie is nog onbekend.




