’n 17-jarige seun is Donderdag, 30 Augustus omstreeks 12:30 tydens ’n huisrooftog met ’n mes gesteek.
Volgens Christiaan Haefele, bedryfsbestuurder van Mooirivier Beskerming, het die rooftog in OR Tambostraat plaasgevind. Die seun se ma sê dat vier verdagtes die 17-jarige seun en die huishulp oorval het, waarna hy met ‘n mes in die arm gesteek is.
Polisiewoordvoerder, ao. Mpho Man- yoba, sê die huishulp was besig met die wasgoed toe vier mans die huis binnegekom het. Hulle het haar aan haar nek gegryp en een van die mans het sy hand oor haar mond gehou. Die verdagtes het haar na die slaapkamer gesleep waar die matriekseun op sy bed gelê het.
“My seun sê hy het vier mans in die huis gesien, drie was in sy kamer en een het op en af in die huis geloop,” sê sy ma, wat verkies het om anoniem te bly.
Volgens haar het twee van die mans messe by hulle gehad en een het gedreig om die huishulp, wat die hele tyd met haar gesig na die grond toe gelê het, se keel af te sny as iemand hulle probeer keer.
“Hulle het toe ’n kombers oor my seun gegooi, hom met hul knieë teen die bed vasgedruk en heeltyd gevra waar sy pa se wapens en my juweliersware is,” sê sy.
Sy sê dat die mans hom aanhoudend geslaan het en op hom gespring het. Van die verdagtes het ’n Samsung televisie, ’n PlayStation 4, ’n Xbox, ’n iPhone, juweliersware, skootrekenaar, oorfone en verskeie ander elektroniese goedere gesteel.
“My seun het heeltyd gebid dat hulle hom nie moet skiet nie en dat hulle nie die huishulp moet verkrag nie, maar toe hulle byna klaar was, het een van die mans hom met ’n mes in sy arm gesteek,” vertel sy ma.
Sy sê dat die mes so diep in sy arm in is dat dit byna aan die anderkant uitgekom het. Die rowers het daarna die huishulp en die seun in sy kamer toegesluit voordat hulle verder deur die huis gegaan het om nog goedere te steel. Toe die seun hoor dat hulle ry, het hy probeer opstaan, maar het sy bewussyn verloor.
“Die huishulp het een van die seun se skoolsokkies bo die wond om sy arm gedraai en by die venster om hulp geskree,” sê sy.
Verbygangers het haar gehoor en die deure afgeskop om by die slagoffers uit te kom. Hulle het Mooirivier Beskerming geskakel, wat op hul beurt weer vir ER24 ontbied het.
Die seun is hospitaal toe geneem, maar is Dinsdag weer ontslaan. Hy was tot Sondag in die intensiewe sorgeenheid aangesien die messteek veroorsaak het dat twee senuwees in sy linkerarm afgesny is en een van die hoof afvoer-are ook afgesny is.
“Die dokters het gesê dit is ’n wonderwerk dat hy nie op die toneel doodgebloei het nie en hy kan bly wees hy het nie sy arm verloor nie,” sê sy ma.
Die skade aan sy arm is so erg dat dit moontlik ses tot 18 maande sal neem voor hy weer sy linkerhand kan gebruik. Hy het ook geen gevoel in sy linkerhand nie.
Nog inbrake:
• Kort na dié rooftog is nog ’n gewapende rooftog in Cameliastraat in Grimbeekpark aangemeld. Die huishulp in Cameliastraat is in die slaapkamer vasgebind terwyl die rowers ’n kluis uit die muur gebreek het.
• Op 29 Augustus was daar ook ’n inbraak in Pheasantstraat, Mooivallei Park. Die studeerkamer se venster is gebreek en verskeie items is gesteel.
• Op 3 September het ’n huis in Malherbestraat se alarm omstreeks 03:00 afgegaan. Die eienaar het gesien die badkamer- en kombuisvenster is oop en die motorhuisdeur was oopgebreek, maar niks is gesteel nie.
Niemand is in verband met die genoemde voorvalle gearresteer nie.



