
Saterdag en Sondag was daar drie verskillende voorvalle van gewapende roof in Potchefstroom.
Op Saterdag 15 September omstreeks 16:20 is ’n man deur drie verdagtes genader toe hy vanaf ’n winkel in die Bultarea geloop het. Die mans het hom met ’n mes gedreig, hom deursoek en met sy selfoon gevlug.
Op Sondag 16 September omstreeks 16:00 is ’n man in New Marketstraat deur drie mans genader. Hulle het hom ook met ’n mes gedreig voor hulle hom teen die grond gegooi en begin skop het. Hulle het toe sy selfoon en kontant gevat en gevlug.
Een van die mans is later die dag deur Mooirivier Beskerming vasgekeer en die polisie het hom in hegtenis geneem. Die slagoffer se selfoon is aan hom terugbesorg.
Sondagaand om 20:00 is nog ’n man deur drie mans voorgekeer in die Wandellaan en met ’n leë drankbottel gedreig. Die mans het sy selfoon gevat maar die polisie kon twee van die verdagtes vastrek en arresteer.
Volgens polisiewoordvoerder kapt. Mvula Chaka het twee mans, afsonderlik 34 en 27 jaar oud, reeds die week in die hof verskyn op aanklag van roof met ’n wapen anders as ’n vuurwapen.
Stasiebevelvoerder brig. Steven Moodley prys die polisielede wat verantwoordelik was vir die arrestasies.
“Die polisie wil altyd alles in hulle mag doen om te verseker dat kriminele in die tronk opeindig,” sê Chaka.



