Die 55-jarige Magda Rex het Maandagoggend kort na middernag in haar bed wakker geword toe een van haar hondjies begin grom het. Toe sy opkyk het daar twee mans langs haar bed gestaan.
Sy sê dat sy om hulp wou skree, maar sy kon byna nie ’n geluid uitkry nie.
“Eers dink mens jy is besig om te droom, maar dan besef jy dit is ’n werklikheid,” sê sy.
Die volgende oomblik het sy onthou van haar alarmstelsel se paniekknoppie in haar bedkassie se laai, maar toe sy daarna gryp, het een van die mans haar hand vasgegryp.
“Die volgende oomblik het hulle my met ’n pistool in my gesig geslaan.” Daarna het hulle haar arms agter haar rug met skoenveters vasgebind.
“Ek moes op die grond lê met my gesig in ’n hoek ingedruk,” sê sy. Hulle het haar heeltyd beveel om nie vir hulle te kyk nie. Hulle het ’n vuurwapen, kontant en trouring geëis, maar sy het aan hulle verduidelik dat sy nie ’n wapen of kontant het nie en dat sy nie getroud is nie.

“Toe begin hulle in my kaste krap. Ek het heeltyd gelê en luister na hoe hulle my goed uitgooi en deurgaan,” sê sy.
“Hulle het in ’n stadium vir die honde geskree: ‘Lay down! Lay down!’, maar siestog die honde verstaan mos nou nie Engels nie.”
Net voor die mans geloop het, het hulle haar met ’n kombers toegegooi. “Ek het gewag tot ek seker was hulle is weg en toe alles stil was, het ek die skêr op my bedkassie gebruik om myself los te knip,” sê sy.
Sy sê dat sy tydens die voorval net twee mans gesien het, maar dat daar moontlik ook ’n derde een in die huis kon wees. Die rowers het weggekom met twee skootrekenaars, ’n selfoon, klere, juwele, drank en ander elektroniese en huishoudelike toestelle.
Volgens polisiewoordvoerder, kapt. Mvula Chaka, is die rowers nog op vrye voet.



