NewsNews

Die verhale van die Afrikaner deur die oë van ’n seun uit die ‘suburbs’

José tree Dinsdag 2 Oktober om 16:00 en Woensdag 3 Oktober om 14:00 by Aardklop se OntProp verhoog op.

’n Offergawe van vars alternatiewe Afrikaanse folk-rock vol verhale oorgedra deur ’n sielvolle unieke stem, wag vanjaar vir jou by Aardklop nasionale kunstefees.

Swerwer is die pseudoniem van sanger-liedjieskrywer José Bezuidenhout. José is in 1988 in Pretoria sentraal gebore, waarna hy sy jeug en tienerjare in die westelike voorstede van Pretoria saam met sy jonger broer en enkelma deurgebring het.

Op die ouderdom van 14 het hy ’n kitaar as geskenk by sy ma gekry en skool verlaat. ’n Jaar later het hy as ’n sak-pakker by ’n supermark begin werk.

Deur die jare voor sy loopbaan afgeskop het, het hy van werk tot werk geskuif en selfs met die genade en gasvryheid van vriende en vreemdelinge vir ’n ruk in die berge van Magoebaskloof in ’n tent gewoon.

“Ag my arme ma, ek was maar ’n probleemkind toe ek ’n tiener was en sy het lang ure gewerk. Skool was vir my ’n straf en ek het gesukkel om in te pas by die ander kinders,” vertel José.

Hy het baie Tuks FM geluister en daar het hy sy helde ontdek. Hy het self sy kitaar leer speel deur saam met die liedjies op die radio te probeer tokkel en het naderhand uit kitaartydskrifte alles probeer inneem wat hy kon.

José het sedert 2009 in verskeie musiekprojekte oor vele platforms landwyd opgetree en het onlangs vir drie jaar sonder huis en kar rondgeswerf met sy Engelse materiaal onder die naam, Vagabond King. Met gemak en siel op enige gegewe tyd is dit nie moeilik om aanklank te vind by sy vertonings nie.

“Swerwer is die verhale van die Afrikaner deur die oë van ’n seun uit die suburbs van Transvaal, uit sy hart uitgespreek in sy moedertaal.”

José tree Dinsdag 2 Oktober om 16:00 en Woensdag 3 Oktober om 14:00 by Aardklop se OntProp verhoog op. 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button