
“Hoe sou dit lyk by die teetuin en die teehuis wat moes open as daar ‘n boom lê. Dit moes net weg.”
So het Frans van Rensburg, eienaar van Rooshoek gastehuis, gereageer oor ‘n boom wat Vrydag 9 November by dié onderneming omgeval het.
“Die teehuis moes die volgende oggend geopen word en die teetuin moet aangaan. Ek het Malcolm Meyerowitz geskakel omdat hy altyd adverteer vir die afsaag van bome,” het hy gesê.
Van Rensburg, wat ‘n spiersiekte het, kon nie self die boom afsaag nie. Volgens hom het Meyerowitz gesê hy sal Johan Zerwick, raadslid van wyk 4, vra om te help.
Tot Van Rensburg se verbasing was Zerwick 07:00 Saterdagoggend 10 November by die teetuin om die boom se takke op te saag.
“Die teetuin kon 09:00 oop en die opening van Potchefstroom se enigste teehuis kon 10:00 plaasvind,” het Van Rensburg gesê.
Hy het op die Hello Pietie Facebookblad groot lof vir Zerwick gehad.
Hoewel dit nie in Zerwick se wyk is nie, het hy gevoel hy moet help.
Zerwick en sy regterhand, sy seun Henrico, het ligte werk gemaak van die boom wat die pad versper het. Volgens dié DA raadslid was dit bloot ’n geval van om ’n mede-Potchefstromer te help.
“Rol ’n stomp uit ’n ander ou se pad,” het hy geskerts.
Die hout is opgelaai waarna Zerwick dit aan mense in Ikageng geskenk het.




