Katgriep is ‘n dodelike siekte wat jong honde baie maklik opdoen.
Volgens Herman van der Sluis, bestuurder van Potchefstroom Animal Welfare Society (PAWS), is daar die laaste paar maande ‘n opmerlike toename in die gevalle van katgriep in Potchefstroom.
Dit kan voorkom word as honde betyds ingeënt word. Katgriep of Parvovirus, kom hoofsaaklik by honde en nie by katte voor nie en dié siekte word ook nie van katte na honde oorgedra nie. Honde wat nie ingeënt is nie, en wat jonger as vier maande oud is, dra die grootste risiko om dié siekte op te doen.
Die virus kan op ‘n persoon se skoensole gedra word – dit is ook die wyse waarop die siekte in 1978 binne ‘n paar maande regoor die wêreld versprei het. Geweldige groot getalle van die virus word in die braaksel en mis van siek diere aangetref waarvan een gram mis genoeg virus bevat om meer as 10 miljoen honde aan te steek.
Die simptome verskyn gewoonlik skielik en die hondjie kan binne ‘n paar uur doodgaan. Eienaars wat vermoed hulle honde het dié siekte opgedoen moet dadelik hulle honde na ‘n veearts neem vir behandeling.
Simptome
Dikwels hoë koors • Lusteloosheid • Verlies aan eetlus • Aanhoudende braking, skuim om die bek • Diarree wat later bloederig word • Tandvleis wit of blouerig • Buikpyn • Vinnige ontwatering
Inentings en voorkoming
Dit is van die uiterste belang dat gesonde hondjies op ses weke teen die siekte ingeënt word en weer vier weke daarna ‘n skraagdoses ontvang. Let wel, honde moet dan elke vier weke daarna totdat hulle veertien weke oud is, ingeënt word. Dié inentings kan by PAWS teen R160, wat ontwurming insluit, gedoen word.
Volgens die Tshwane DBV word ‘n soortgelyke toename van katgriep is ook in Pretoria opgemerk.



