NewsNews

Inwoners wag in rye terwyl munisipale personeel ‘funksie’ bywoon

Terwyl talle mense verlede Vrydag in rye gestaan het om hul munisipale rekeninge te probeer betaal, het munisipale werknemers glo met koelsakke en kortbroeke die kantore verlaat om hul jaareindfunksie te gaan geniet.

Terwyl talle mense verlede Vrydag in rye gestaan het om hul munisipale rekeninge te probeer betaal, het munisipale werknemers glo met koelsakke en kortbroeke die kantore verlaat om hul jaareindfunksie te gaan geniet.

Potchefstromers was Vrydag woedend aangesien hulle voor toe toonbanke moes staan en wag vir iemand om hulle te kom help.
Aangesien die sperdatum vir betalings Vrydag was, het die meeste mense geweier om eers Maandag terug te gaan en het hulle besluit dat hulle net daar sal staan tot hulle ‘n diens ontvang.
“Daar is geen kennisgewing uitgestuur om mense te laat weet dat die kantore Vrydag sou toe wees nie,” sê een van die woedende inwoners.
Sy sê dat baie bejaardes al die pad van Ikageng af gekom het om hul rekeninge te betaal sodat hulle nie in die donker hoef te wees weens agterstallige rekeninge nie.
Van die mense het al sedert 07:30 Vrydagoggend in die ry gewag, maar later het ’n enkele vrou gekom om hulle te help.
“Kyk hoe baie mense is ons hier. Ons moet almal gehelp word en die arme vrou staan nou alleen en probeer om by almal uit te kom,” het nog ’n inwoner gesê.
“Dis onregverdig. Ons het pensionarisse wat ver moes loop om hier te kom en nou stuur hulle ons terug huis toe. Hulle kon ten minste ’n nota gelos het,” het ’n erg ontstelde vrou gesê.
Nog iemand sê dat hulle ten minste hul rekeninge kom betaal, hoewel hulle skaars die dienste waarvoor hulle betaal ontvang.
Mense het voor 'n toe deur gestaan en wag om hul rekeninge te betaal. Foto: Marianke Saayman
Mense het voor ‘n toe deur gestaan en wag om hul rekeninge te betaal. Foto: Marianke Saayman
“Ons betaal vir vullisverwydering maar ons vullis word nie weggery nie. Ons betaal vir elektrisiteit, maar ons het amper nooit krag nie. Ons betaal vir riool en water, maar die pype bars en riool loop die strate vol. Hulle moet ophou om ons te beroof,” sê sy.
Die mening van die meeste van die mense wat Vrydag daar was, is dat die munisipaliteit nie verdien om ’n jaareindfunksie te hou nie, aangesien hulle glad nie hul verpligtinge teenoor die gemeenskap nakom nie.
Munisipale woordvoerder Willie Maphosa sê dat die munisipaliteit sedert Maandag 3 Desember reeds kennisgewings buite alle ingange by die kantore geplaas het om kliënte in kennis te stel dat hulle wel op Vrydag 7 Desember vroeër sou toemaak.
Hy sê dat die munisipale personeel op die datum ’n welstand funksie wat deur hul Employee Assistance Program (EAP) gereël is, bygewoon het.
Hy sê dat die fasiliteite van 08:30 tot 13:00 oop was om die publiek so ver as moontlik te kon help.

Related Articles

Back to top button