
Die Potchefstroom-polisie het op 5 Desember tydens ’n polisieoperasie verskeie verdagtes in verband met verskillende misdade in Potchefstroom in hegtenis geneem.
Volgens polisiewoordvoerder ao. Mpho Manyoba is twee mense weens die besit van onwettige middels in hegtenis geneem.
Ses mense is in verband met verskillende sake van huisbraak en diefstal in hegtenis geneem en twee mense in verband met sake van diefstal uit voertuie uit.
Een persoon is op aanklag van aanranding met die doel om ernstig te beseer en in verband met misdade gepleeg teen vroue en kinders, in hegtenis geneem en een persoon vir roekelose- en nalatige bestuur.

Een persoon is vir algemene aanranding, een vir gewapende roof en nog ‘n persoon vir winkeldiefstal in hegtenis geneem.
Konstabel CD Ramphore het veral ’n suksesvolle ondersoek die jaar gehandhaaf. Ramphore het sake van diefstal en huisbraak wat in 2015 en 2016 plaasgevind het, ondersoek. Die twee misdade is deur dieselfde persoon gepleeg.
Die 28-jarige man van Ikageng is nou geïdentifiseer, is gevonnis en vir 15 jaar tronk toe gestuur. Daar is ander sake teen hom wat steeds ondersoek word.
Die stasiebevelvoerder, brigadier Steven Moodley, sê dat hulle die Potchefstroom-speurdienste en die goeie werk wat hulle doen, baie waardeer.




