
Groot boetes vir Ster-Kinekor, Primedia en SAUK
Ster-Kinekor, Primedia en die SAUK is onlangs streng beboet nadat hulle erken het dat hulle advertensiepryse aangepas het vir sommige lede.
Volgens ʼn artikel deur MyBroadband is ʼn ondersoek reeds in November 2011 geloods wat uiteindelik vasgestel het dat dié drie maatskappye met die Media Credit Coordinators (MCC) saamgespan het en lede van die MCC meer afslag gegee het om by hulle te adverteer.
Die ondersoek het bevind dat hierdie gedrag kompetisie tussen die maatskappye beperk het aangesien hulle pryse en handelsterme aangepas het in oortreding met die wet op mededinging (Competition Act).
Die SAUK moet ʼn administratiewe boete van R31.8 miljoen betaal en 25% gratis advertensiespasie vir agentskappe wat in aanmerking kom gee vir ʼn tydperk van drie jaar. Hulle moet ook ʼn verdere R17.8 miljoen oor die volgende drie jaar aan die Ekonomiese Ontwikkelingsfonds (Economic Development Fund) betaal.
Primedia moet ʼn boete van R9.6 miljoen betaal asook 25% gratis advertensiespasie oor drie jaar gee. Verder moet hulle R3.5 miljoen aan die Ekonomiese Ontwikkelingsfonds betaal.
Ster-Kinekor betaal ʼn boete van R437 000, moet 25% gratis advertensiespasie gee en moet R157 000 aan die Ekonomiese Ontwikkelingsfonds betaal.
Lees die oorspronklike artikel hier.

Samsung gaan groen met nuwe laaier
Die bekende slimfoon handelsmerk, Samsung het aangekondig dat hulle die ontwerp van hul selfoonlaaiers hierdie jaar gaan verander om dit meer omgewingsvriendelik te maak.
Volgens ʼn artikel op Gadgets Now se webtuiste is die laaier op die oomblik gemaak van ʼn glanserige plastiek en word dit met plastiek omhul vir beskerming. Samsung het besluit om hul nuwe laaiers eerder met ʼn dowwe plastiek te maak sodat hulle minder plastiek kan gebruik.
Verder wil Samsung ook hul verpakkingsmateriaal verander sodat hul produkte in omgewingsvriendelike materiaal eerder as plastiek verpak word. Hulle gaan glo gebruik maak van materiale soos herwinde plastiek en papier.
Lees die oorspronklike artikel hier.




