Die jongste nuus is steeds dat drie leerlinge van die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark vanoggend dood is toe ‘n betonblok van ‘n oorhoofse oorgang tussen twee geboue ineengestort het. Russel Meiring, woordvoerder van ER24 het bevestig dat drie kinders dood is, en nie vier soos aanvanklik gesê is nie.
Die naam van een van die kinders wat gesterf het is intussen bekend gemaak. Dit is die 17-jarige Roydon Olckers. Die twee ander leerlinge, blykbaar beide in Graad 8, se name is nog nie bekend gemaak nie.
Hoewel ondersoek aan die gang is is die vermoede dat roes van die struktuur waarop die betonblok was, die oorsaak van die tragedie is.
Sover bekend is nog 21 kinders ernstig beseer waarvan vyf in ‘n kritieke toestand is. Van hulle is per helikopter na hospitale vervoer.

Die skool is onmiddellik na die tragedie gesluit en ouers is gevra om hul kinders te kom haal. Verskeie strate om die skool was gesluit om nooddienswerkers toegang te gee.
Berading is aan ouers, kinders en leerkragte gegee.
Een ouer is ernstig beseer toe sy op pad na die skool in ‘n ernstige ongeluk was.
Roerende tonele het by die skool afgespeel toe groepies ouers en leerlinge mekaar getroos en gebid het. ‘n Diens is ook later die dag by die skool gehou. Die LUR vir Onderwys in Gauteng het ook die skool besoek en hulp aangebied vir almal wat nie mediese fondse het nie.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/57398/drie-kinders-dood-vyf-ernstig-beseer-toe-brug-val/




