
‘n Pa en sy agtjarige seun is in die hospitaal opgeneem nadat albei vanoggend omstreeks middernag tydens ‘n vermoedelike huisroof op die Vyfhoek plotte erg aangerand is.
Die Herald kon tot dusver bevestig dat albei steeds in die hospitaal is. Die seun is na bewering weens die aard van sy beserings na ‘n hospitaal in Johannesburg geneem. Die seun se ouma is ook tydens die rooftog beseer maar is al reeds uit die hospitaal ontslaan.
Volgens kol. Adele Myburgh, polisiewoordvoerder, het die ouma haar kleinkinders gehoor skree. Sy het dadelik gaan ondersoek instel waarna sy ‘n man in die gang aangetref het. Die man het haar herhaaldelik met ‘n voorwerp oor die kop geslaan. Sy het begin skree waarna die man gevlug het.
Volgens Myburgh, het die ouma met aankoms in die kamer waar haar seun en twee kleinkinders geslaap het haar 47-jarige seun en agtjarige kleinseun met erge gesig en kopwonde aangetref. Haar ander kleinkind, ‘n sesjarige dogtertjie is glo ongedeerd.
“Sover bekend is, is daar nog net ‘n bos sleutels wat vermis is. Dit blyk dat die verdagtes deur ‘n venster toegang tot die huis gekry het. Die polisie ondersoek ‘n saak van huisroof maar nog niemand is in hegtenis geneem nie. Dit blyk dat daar twee verdagtes by die misdaad betrokke was,” het Myburgh gesê.



