Oudstudenteraad vier 50 jarige reünie en herdenk hul verbintenis
Die studenteraad van 1969 het Saterdag, 14 September hul 50ste reünie met ‘n besoek aan die kampus gevier. Hoewel die kampus baie anders daar uitsien, het die omgewing vir almal baie goeie herinneringe opgeroep.
Die studenteraad van 1969 het Saterdag, 14 September hul 50ste reünie met ‘n besoek aan die kampus gevier. Hoewel die kampus baie anders daar uitsien, het die omgewing vir almal baie goeie herinneringe opgeroep.
Hulle het onder meer die huidige studenteraadkantore besoek, middagete by die Draak genuttig en natuurlik baie gekuier. Aandete was deur die Alumnikantoor geborg.
Sondagoggend het hulle saam die erediens in die Gereformeerde Kerk Potchefstroom bygewoon waar die destydse studenteraadvoorsitter, prof. Callie Coetzee die preek gelei het.
Een van hul besoekpunte op die kampus, waaraan hulle baie waarde heg, was die gedenkteken wat hulle in 1969 opgerig het ter viering van die 100 jarige bestaan van die PU vir CHO en die Teologiese Skool van die Gereformeerde Kerk van Suid-Afrika. Die monument is ontwerp en opgerig deur J Petro van der Walt en Prof. HJJ Bingle het dit op 3 Oktober 1969 onthul.

Om hulle verbintenis aan die Noordwes Universiteit te bevestig, het hulle later op 16 Oktober 2009 ‘n nuwe gedenkplaat by die monument opgerig om hul verbintenis aan die Noordwes Universiteit te bevestig.
Die gedenkplaat lui as volg: “Die Studenteraad van 1969 kyk na veertig jaar met dankbaarheid terug op wat ons Alma Mater in ons lewens en in dié van duisende van ons medestudente beteken het. Waar die destydse PU vir CHO vandag deel van ‘n groter geheel vorm, bevestig ons graag opnuut ons verbintenis aan die Noordwes Universiteit. Ons is trots op die wyse waarop dit in nuwe omstandighede steeds met toewyding aan gehalte en met beginselvastheid diensbaar is aan Suid-Afrika en al sy mense.”
Die monument bestaan uit drie komponente wat simbolies die verhouding tussen studente en die universiteit uitbeeld; Die bonkige basis verteenwoordig die universiteit as vesting van geborgenheid; Die middelste toring met die lig daarin beeld simbolies die lig van die Woord en die wetenskap uit en die figure rondom, beeld die voortdurende kom en gaan van opeenvolgende geslagte student uit.



