Potchefstromers boks saam teen die droogte
“Ons kan nie vir mense in die Noord-Kaap reën gee nie, maar ons kan hulle in dié moeilike tyd ondersteun deur hulle ‘n bietjie op te beur en te bederf.”
“Ons kan nie vir mense in die Noord-Kaap reën gee nie, maar ons kan hulle in dié moeilike tyd ondersteun deur hulle ‘n bietjie op te beur en te bederf,” sê Luwaney Janse van Rensburg wat die Boks vir ‘n Boervrou-projek die eerste keer op ‘n facebookblad raakgesien het.
Dié projek behels dat lekkernye, ‘n spesiale geskenkie vir ‘n vrou en ‘n briefie ter bemoediging in ‘n skoen- of wynboks verpak word. Die boks word met koerantpapier oorgetrek en met ‘n mooi lint vasgebind. Die geskenkbokse word dan na verskillende verspreidingspunte toe geneem en aan die boervroue van die Karoo uitgedeel.
Luwaney en haar vriendin, Carien Mőller werk tans aan ‘n soortgelyke projek wat geskenkpakkies vir vroue in die Noord-Kaap opmaak om hulle te bemoedig. Hulle noem dit Bederf ‘n Boervrou. “Die Vroue Landbou-unie (VLU) van Wellington se Boks vir ‘n Boervrou-projek het ons só geïnspireer dat ons graag ook iets wil doen vir die vroue in die Noord-Kaap,” sê Carien.
Dit is nie net vroue wat deur hierdie projek geïnspireer is nie. ‘n Plaaslike neutboer, Johan Pieterse, het by die projek betrokke geraak en Luwaney gebel om die vervoer vir die bokse na die Noord-Kaap aan te bied. “My vrou het ‘n WhatsApp boodskap gelees en so het ek van die projek bewus geword,” sê hy. Johan beplan om die pakkies met sy wildstrok na Jo Scholtz, ‘n skakelbeampte van Agri-Noordkaap, te neem. Hy gaan op sy beurt weer die pakkies help versprei.
Volgens Luwaney is daar ongeveer 4 000 plase in die Noord-Kaap wat onder die droogte gebuk gaan. Die streek is in Augustus tot ‘n rampgebied verklaar.
Verskeie boksprojekte van mense wie se harte uitgaan na die boervroue en gesinne in droogtegeteisterde gebiede het sedert Augustusmaand die lig gesien. Noem dit wat jy wil – Hartsboks, Boks vir ‘n Boervrou of Bederf ‘n Boervrou – dié geskenkprojek is meer as net ‘n bederfie vir vrouens wie se families tans deur ‘n baie swaar tyd gaan – dit is die land se vroue wat hulle liefde en meelewing so wil uitdruk. “Maak nie saak watter projek jy ondersteun nie, solank jy deel neem om ‘n bietjie hoop in hierdie mense se harte te sit,” sê Luwaney.
Potchefstromers het ingespring en pak hierdie Saterdag, 26 Oktober geskenkboksies by Frans van Rensburg se huis in Rissikstraat 164. Met die 26 vroue wat boksies gaan pak, lyk dit of vroue van die Noord-Kaap dalk elkeen ‘n verrassing met Kersfees gaan kry. “Ons het die meeste bestanddele vir oulike geskenkpakkies, maar kort nog net klein geskenkies. Diegene wat serpe, krale en oorbelletjies of enige ander geskenkies wil skenk, kan dit nog tot Vrydag by Friends (Rissikstraat 164) afgee,” sê Frans.
Geskenkboksies word net tot Saterdag, 30 November ontvang. Potchefstromers wat self ook ‘n verrassingspakkie wil pak, (sien lys van idees hieronder asook ‘n video aan die einde van die berig) kan dit by Pick n Pay in Van der Hoffpark of Luwaney se huis (Wynnestraat 129) afgee. Vir navrae, skakel haar gerus by 072 580 3534.
Geskenk-idees: Cappucino koffiesakkies, koekies, blikkies kondensmelk, tee, lekkers, lyfroom, briefie (opsioneel), malvalekkers, geskenkie (serp/krale/oorbelle). Jy kan jou eie geskenk met enigiets opmaak. Hou net in gedagte dat dit nie moet smelt of sleg word nie.
https://www.facebook.com/Luwaney/videos/10219115964625030/



