Nege honde is Maandagaand (11 November) in Grimbeekpark vergiftig. Inwoners van Jasmynstraat is hoofsaaklik hierdeur getref.
Jeanne Adriaanse, DA wykraadslid, het Dinsdag op Facebook gewaarsku dat behalwe vir die nege honde wat vergiftig is, daar in nog erwe in die gebied gif gevind is. Sy sê daar is later ook ‘n dooie kat sowel as ander kleiner diere soos voëls dood gevind.
Volgens haar is al die vergiftigings by Jasmynstraat se agterste erwe, bedoelend die erwe wat grens aan die oop veld wat langs Govan Mbeki-rylaan strek. Adriaanse sê die wykskomittee werk tans aan ‘n sekuriteitskamera-projek wat hulle in die gebied wil implementeer.
Hondevergiftiging gaan gewoonlik met huisbraak gepaard.
Ao. Mpho Manyoba, Potchefstroom polisiewoordvoerder, het bevestig dat minstens twee sake van hondevergiftiging gepaard met diefstal en saakbeskadiging, by die polisie aangemeld is. Sy sê in Jasmynstraat is ‘n hond vergiftig en ‘n traliehek is oopgebuig. In ‘n ander erf is twee honde vergiftig en motorwiele gesteel.
‘n Potchefstromer, Sharon Pyburn, het op PAWS se Facebookblad die publiek oor hondevergiftiging gewaarsku.
“Wees op die uitkyk vir verdagte pakkies in jou tuin en hou jou honde weg van plekke waar hy kos van vreemde persone kan ontvang. Plaas enige gevalle van vergiftiging op jou GPF groep en waarsku jou bure,” het sy gesê.
Sy sê verder mense moet hul erwe fynkam vir enige vreemde items wat moontlik gif kan bevat. ‘n Gif wat algemeen gebruik word in hondevergiftiging is Temik (ook bekend as Two Step). Dié gif is in die vorm van klein swart of donkergrys korrels en word gewoonlik binne eetbare stowwe soos ‘n stukkie wors, polony, maalvleis of brood gesit voor dit in erwe ingegooi word.
Pyburn vra dat mense alle sake van hondevergiftiging by die polisie moet aanmeld aangesien dit ‘n tendens is dat dié tipe sake nie aangemeld word nie.




