Vroeë kerskgeskenk vir plaaslike bib
Die plaaslike biblioteek in Potchefstroom het onlangs 'n skenking van meer as 11 000 Setswana kinderboeke van 'n uitgewer in die Kaap ontvang.

Die plaaslike biblioteek in Potchefstroom (h/v Sol Plaatjie en Wolmaransstraat) het onlangs ‘n skenking van meer as 11 000 Setswana kinderboeke van ‘n uitgewer in die Kaap ontvang.
Anansi Uitgewers, van Durbanville in die Kaap, het begin om al hul kinderboeke in voorraad uit te deel nadat die bestuur besluit het om hul deure te sluit. André Conradie, die eienaar en bestuurder van Anansi, sê die dood van een van hulle bestuurslede, dr. Lydia Snyman, was vir hul besluit verantwoordelik. Volgens Conradie was Snyman ‘n belangrike navorser in kinderlektuur en het sy ook ‘n groot aantal kinderboeke, uit die wêreldliteratuur, in Afrikaans vertaal – volksverhale uit Ysland, Afrika, China, Ierland, Oekraine, die Skandinawiese lande, Europa en Rusland.
Conradie het lukraak biblioteke gebel in die streek waar Setswana gepraat word. ‘n Biblioteekaresse van die Potchefstroom Biblioteek, Louise Markram, was vriendelik, hulpvaardig en entoesiasties en daarom het hy besluit om die boeke vir die plaaslike biblioteek te skenk.

“Ons is baie dankbaar vir die skenking, want ons sukkel om fondse te kry om nuwe boeke aan te koop”, sê Louise. Sy het ook baie gesukkel om fondse te kry om vir die koerierkostes te betaal, maar toe sy haar oë uitvee, het Anansi selfs die koerierkostes gedek!
Die biblioteekpersoneel het hard gewerk om twee stelle van 56 verskillende titels vir elke van die 12 biblioteke in die JB Marks munisipaliteit te pak. Hulle deel ook boeke uit aan biblioteke in Klerksdorp. Primêre skole in en rondom Potchefstroom sal ook ‘n stel hoë kwaliteit, pragtig geilustreerde, hardeband boeke ontvang.
Anansi Uitgewers was een van die eerste uitgewers wat, behalwe vir Afrikaans en Engels, kinderboeke ook in Isixhosa, Isizulu, Setswana en Sesotho versprei het.



