Sterftekennisgewing dui verkeerdelik aan dat oorledene se arm geamputeer is
Toe Ryno Cawood Maandag (6 Januarie) sy pa, Ralph Cawood, se sterftekennisgewing van die Potchefstroom Hospitaal ontvang, het die fout wat daarop voorkom hom van voor af warm onder die kraag. Die Herald het Desember verslag gedoen oor die beweerde swak behandeling wat die gesin met Ralph se hospitalisasie ondervind het.
Toe Ryno Cawood Maandag (6 Januarie) sy pa, Ralph Cawood, se sterftekennisgewing van die Potchefstroom Hospitaal ontvang, het die fout wat daarop voorkom hom van voor af warm onder die kraag.
Die Herald het Desember verslag gedoen oor die beweerde swak behandeling wat die gesin met Ralph se hospitalisasie ondervind het (https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/68200/man-sterf-na-swak-behandeling-potch-hospitaal/). Die fout op die sterftekennisgewing is vir hulle net een te veel.
Op die sterftekennisgewing word twee blokkies aangedui waarin ‘n regter- en linker duimafdruk van die oorledene gemaak moet word. Die linker duimafdruk is gemaak, maar nie van die regterhand nie. In plaas daarvan is ‘n inskripsie in die blokkie gemaak wat lui “arm amputet.” Ryno sê sy pa se arm is nooit geamputeer nie.

Ralph Cawood is Woensdagaand (4 Desember) nadat hy ‘n beroerte gehad het, in die Potchefstroomse Hospitaal opgeneem. Hy is ‘n week daarna, op Woensdag (11 Desember), dood. Volgens Ryno het ‘n mediese dokter bevestig dat Ralph longinfeksie opgedoen het, nadat sy voedingsbuis verkeerd ingesit is.
Die Herald het dr. Shakung, die kliniese bestuurder van die Potchefstroom Hospitaal, Dinsdag (7 Januarie) vir kommentaar genader maar hy het tot op hede nie daarop gereageer nie.



