
Die bekende gedruis van eerstejaarstudente wat blikskud deur die strate van Potchefstroom gaan vanjaar stil wees.
Volgens Louis Jacobs, woordvoerder van die NWU, kan daar nie betyds veiligheidsertifikate vir die strukture waaraan die studente moet werk uitgereik word nie.
“Daar sal net nie genoeg tyd wees om die vlotte te voltooi voor Saterdagoggend nie. Dit is ‘n enorme slag vir almal maar die veiligheid van ons studente moet ons eerste prioriteit wees,” het Jacobs gesê.
Volgens hom sal daar teen later vanmiddag besluit word of die vertonings vanaand op die Joolplaas sal aangaan.
Vanjaar se Joolvieringe is deur twee rampe getref. Donderdagaand omstreeks 19:00 het ‘n sterk rukwind een van die tente omgewaai. Ongeveer agt studente is vir geringe beserings behandel.
Vandag (31 Januarie) omstreeks 11:30 het die vuurwerke wat vir vanaand se vuurwerkvertoning sou gebruik word ook ontplof. Daar is glo twee mense beseer wat nie studente is nie.
Die NWU is die enigste universiteit in die land wat nog jaarliks JOOL aanbied.



