Wanneer die strate dolleeg is en die mededeelsaamheid van die publiek al hoe minder word weens die isolasie van die inperking, ontstaan daar gewoonlik een groot vraag:
Wat word van die haweloses wat ons gewoonlik uit die hoek van ons oog op die straathoeke vir geld, kos en klere sien bedel?
Die goeie nuus is dat Potchefstromers beslis omgee vir diegene wat sonder ‘n dak oor hulle koppe is en moet rondskraap vir ‘n stukkie kos.
Danksy die samewerking tussen die JB Marks Munisipaliteit, die departement van gesondheid, die polisie en die weermag is die haweloses van Potch in goeie hande.
Volgens DA raadslid, Santi Britz, wat direk betrokke is by die Rampsentrum in Potch, is daar uitstekende vordering rakende ‘n alternatiewe heenkome vir haweloses.
“Daar is tans ‘n tydelike JB Marks behandelingsentrum op Witrand Hospitaal se terrein opgerig waar daar plek vir 40 haweloses is. Daar kry hulle ook drie volledige maaltye en slaapplek. Ons het ook die Trimpark geïdentifiseer om hulle daar te huisves. Daar is ’n inloop yskas, storte en slaapplek,” noem Britz.
“Die samewerking van almal betrokke is wonderlik en ons is dankbaar vir die department van sosiale ontwikkeling, die departement van gesondheid, sowel as die polisie vir puik samewerking in die verband,” het sy genoem.
Volgens Britz kan haweloses nie forseer word om by die fasiliteite te bly nie, en tans is dwelmverslawing een groot kommer onder die haweloses.
“Sekere haweloses vat wel die pad weens verslawing en dit is een van die groot probleme wat ons steeds het. Hawelose kinders bly ook tans by Thakaneng en ons skep ’n tuiste daar vir hulle,” vertel Britz.
Die Herald het ook vir Huis Hebron gekontak en volgens die bestuurder, Rina Swanepoel, is hulle reeds vol en kan nie nog haweloses huisves nie.
“Daar is mense wat plek vir haweloses en armes by ons gesoek het, maar ons het nie meer plek nie,” het sy beaam.



