Sakekamer behartig voedselprojek vir families in nood
“Baie mense het nie die vermoë om die water eers warm te maak nie, so hierdie pap wat net met gewone water en melk aangemaak kan word, is iets wat baie help,”
Tydens die huidige inperking is daar ‘n aantal plaaslike helde wat tyd insit om in die nood te voorsien.
Een van hierdie noodsituasies is die gebrek aan kwaliteit bekostigbare voedel vir diegene wat van die hand na die mond leef en nie kan bekostig om kos vooruit te koop en op te gaar nie.
Danksy ‘n voedingskema wat deur die rampverligtingskomitee gedryf word, kan pap teen slegs R1 per maaltyd, aan behoeftige inwoners voorsien word.
Heel mielies word fyngemaal, waarna dit dan gestoor word vir ‘n spesiale kookproses. Die meel word gekook, waarna die pitte ook gedroog en dan verpak word. Die laaste stap is dan om die nodige vitamines en minerale by te voeg. Die pap kan dan met water of melk geniet word.
Hierdie plaaslike maatskappy gebruik tans ook vrywilligers in die fabriek om seker te maak dat genoeg voedsel geproduseer word.
Jonathan Baron, die voorsitter van die Potch/Tlokwe Sakekamer, noem dat dit een van die belangrikste projekte is.
Hy is ook een van hierdie mense wat saam hande vat met ‘n klomp instansies om seker te maak dat daar genoeg voedsel vir minderbevoorregtes is.
“Daar is tans sowat 13 000 gesinne binne Potchefstroom se munisipale grense wat R3 000 per maand en minder verdien. Saam met verskeie rolspelers is ons besig om ‘n lys van mense te identifiseer. Ons maak ook gebruik van kerk- en gemeenskapsleiers om die voedsel te versprei. Die doel is ook om 1-2 maaltye per dag vir gesinne te kan voorsien.”
Volgens Baron het die sakegemeenskap dit reggekry om reeds vir 15 ton pap te betaal, aangesien R250 000 ingesamel is.
“Baie mense het nie die vermoë om die water eers warm te maak nie, so hierdie pap wat net met gewone water en melk aangemaak kan word, is iets wat baie help,” vertel Baron.
Hy is baie bly oor die hoeveelheid hulp en samewerking in die breë Potchefstroomse gemeenskap en dat almal bydra om die nood te verlig.
“Ek is buitengewoon verras, aangesien ons hierdie projek nog net vir meer as ‘n week dryf.
“Dit wys dat ‘n sterk gemeenskap enige krisis kan aanpak en saam hande vashou in nood,” sê Baron.
Vir navrae en oor hoe om betrokke te raak, kan Jonathan Baron by 084 506 3706 gekontak word.




