CommunityNewsNewsPhoto Galleries

Van der Walts 60 jaar getroud en steeds dolgelukkig

Hulle spesiale dag tydens inperking laat nie juis baie ruimte vir baldadige feesvierings nie, maar gelukkig pla dit hulle glad nie.

Vandag, Donderdag, 21 Mei is Pieter en Alta van der Walt se 60ste huweliksherdenking.

Hulle spesiale dag, wat tydens die nasionale staat van inperking val, laat nie juis baie ruimte vir baldadige feesvierings nie, maar gelukkig pla dit hulle glad nie.

Inteendeel, dit laat hulle weer sestig jaar terugdink toe die Suid-Afrikaanse regering destyds, kort voor hulle beplande troue, ‘n noodtoestand afgekondig het. Die weermag moes die polisie in Transkei ondersteun met opstande wat daar plaasgevind het. Pieter was toe ‘n jong vlieënier in die Suid-Afrikaanse Lugmag en moes spesiale toestemming kry om te kon trou.

Hulle groot dag is op Rosendal in die Vrystaat voltrek, maar daar was nie sprake van ‘n wittebrood nie en hulle het die Maandag weer ingeval by hulle werk. Pieter was toe in Potchefstroom gestasioneer en Alta was ‘n jong onderwyseres by Klerksdorp Hoërskool. Hulle het hul in Potchefstroom gevestig en Alta het elke dag heen en weer met ‘n bus Klerksdorp toe gery.

Die bruidspaar op hul troudag in 1960 op Rosendal.

Alta en Pieter gesels graag oor hul verlede en vertel dat hulle mekaar al in graad-9 ontmoet het toe hulle hoërskoolloopbaan saam by Bethlehem Voortrekker Hoërskool begin het. Volgens Alta het die Transvaal en Vrystaat se grade verskil. In die Vrystaat het jou hoërskoolloopbaan eers in graad-9 begin. Hulle was elke jaar in dieselfde klas en het in matriek eers “gekys”, vertel Pieter met ‘n breë glimlag. Na skool het die paartjie steeds kontak behou terwyl Alta haar opleiding by die Pretoria Onderwyskollege voltooi en Pieter sy opleiding as vlieënier by die lugmagbasis by Voortrekkerhoogte in Pretoria ontvang het.

Pieter se pos in die lugmag het gesorg dat hul gesin baie avontuur op interessante plekke in Suid-Afrika en Namibië beleef het. Na 24 jaar het hy bedank om sy gesin permanent in Potchefstroom te vestig. Hy het toe ‘n pos in verdedigingsnavorsing beklee waar hy met projekte tussen die universiteit en die weermag behulpsaam was. Later was hy ook by navorsingsadministrasie, beurse en lenings betrokke voor hy op 63-jarige ouderdom afgetree het.

Hulle is lief vir Potchefstroom en wil graag hier woon omdat hul twee dogters, Alpha Marais en Amanda Jordaan, ook hier woon. Hulle is baie trots op hul vyf kleinkinders en drie agterkleinkinders. En hul geheim vir ‘n lang en gelukkige huwelik? “Ag, ons is sommer net lief vir mekaar,” sê Alta.

Pieter voeg by dat onderlinge ondersteuning en verdraagsaamheid ook belangrik is, maar hul albei is dit eens dat dit makliker gaan hoe langer mens saam is. “As jy só lank getroud is, dink jy later dieselfde en deel jy ook al hoe meer mekaar se belangstellings,” sê Pieter.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

Related Articles

Back to top button