Potchefstroom Dorp Rugbyklub is so sinoniem met Potchefstroom soos die studentelewe, wilgebome en Aardklop. Dié rugbyklub is al meer as 130 jaar oud en naas Klerksdorp Rugbyklub, die oudste klub noord van die Vaalrivier.
Daar is ‘n kleurryke geskiedenis wat elke klubhuismuur en gedenkstuk omring. Elke rugbyliefhebber sal saamstem dat die tyd nie vinnig genoeg kan kom dat goeie, klipharde klubrugby gespeel kan word nie.
Vir eers gaan die Herald weekliks in Uit die Leeukuil, in die argiewe loer vir ‘n paar van Potch Dorp se geskiedkundige en interessante herinneringe.
In 2013 het Potch Dorp sonder skroom die Neserliga-titel verdedig wat hulle in 2012 gewen het, met ‘n 29-0 oorwinning teen Leeudoringstad op hul tuisveld.
Die kaptein op daardie dag, Deon Thiardt, sowel as die agterspeler, JP van Aswegen, was ysters teen Leeutjies. Dit is nou al sewe jaar later en Potch Dorp is steeds op soek na die Neserliga-titel in hulle trofeekabinet. Vanjaar was daar groot opwinding oor die span se kanse, maar ‘n deurskynende teenstander genaamd Covid-19, staan tans in hulle pad.
• Enige lesers wat interessante geskiedenis oor Potch Dorp Rugbyklub, ‘n wedstrydherinnering of bekeroorwinningfoto’s en artikels het, kan dit aan wouter.pienaar@media24.com stuur.




