Warm Harte-projek bring vreugde vir 114 ouer mense
Die Potchefstroomse gemeenskap en die Dienssentrum vir bejaardes het rondom Moedersdag 114 ouer mense se harte warm laat klop met ‘n liefdevolle geskenkpakkie van warm slaapklere, pantoffels en ‘n kombers.
Die Potchefstroomse gemeenskap en die Dienssentrum vir bejaardes het rondom Moedersdag 114 ouer mense se harte warm laat klop met ‘n liefdevolle geskenkpakkie van warm slaapklere, pantoffels en ‘n kombers.
Vir die meeste van ons is warm nagklere en ‘n warm bed in die winter ‘n gegewe, maar vir baie ouer mense is dit ‘n luukse. ‘n Barmhartige Samaritaan uit die gemeenskap het ‘n behoefte gehad om juis aan ouer mense so ‘n warm geskenkpakkie te gee en het vyf jaar gelede die Dienssentrum genader om mense te identifiseer wat dit nodig het. Só het die Warm Harte-projek begin.
‘n Maatskaplike werker van die Dienssentrum wat by die projek betrokke is, Karen Viljoen, sê dat die vrou wat die projek begin het anoniem wil bly. Dié Samaritaan werf mense uit die gemeenskap met ‘n anonieme lys wat Karen opstel. Die donateurs koop dan die nodige items volgens die groottes op die lys en niemand weet vir wie hulle die geskenkpakkie saamstel nie.
“Hoewel hierdie projek fokus om ouer persone fisies warm te hou, bring die Warm Harte-projek ook soveel dankbaarheid, blydskap en omgee in elke ouer persoon se lewe. Die liefde en sorg wat met die projek gepaard gaan, is ongeken. Met geen uitsondering is hierdie geskenkpakke met trane van dankbaarheid ontvang teenoor die personeel wat die geskenkpakke afgelewer het,” vertel Karen. Sy bedank graag al die donateurs wat by die projek betrokke was.
“Dankie is ‘n klein woordjie, maar ons harte loop oor daarvan,” sê sy.
Vir navrae of om by die projek betrokke te raak, skakel Karen by (018) 293 0678.




