Senwespark soos ons dit vandag ken is die basis van Noordwes Krieket in Potchefstroom waar talle opwindende provinsiale en internasionale wedstryde al plaasgevidn het.
Vroeg in 2000 is die eerste wedstryde op hierdie gronde, wat toe as die Noordwes Krieketstadion bekendgestaan het, gespeel, met Kwa-Zulu Natal se Doug Watson wat die eerste hondertal (220) in eerste rangse krieket hier teen Noordwes aanteken. Die voormalige Protea, Andrew Hudson, het ook ‘n hondertal in dieselfde wedstryd aangeteken.
Die Herald het oor die opening van hierdie stadion wyd en syd berig en veral ook ore rondom die wedstryd teen ‘n toerende Engeland-span gespits. Destyds was die president van Noordwes Krieket, Mickey Gordon, aan die stuur van hierdie nuwe stadion in Potchefstroom.
Later in 2000 sou Nieu-Seeland teen die Proteas op 20 Oktober in die eerste internasionale eendagwedstryd te staan kom. Die wedstryd is wel gekanseleer nadat slegte weer ingemeng het met SA op 195/2 na 38.2 boulbeurte. Die voormalige veelsydige speler, Nicky Boje, het hier ‘n puik 105 (92) nie uit nie aangeteken.





