Moet motoriste betaal om ’n noodsaaklike gerief te gebruik?
Dit is die vraag wat onlangs heelwat gesprek onder Herald-lesers ontlok het nadat die kwessie van betaalde toiletgeriewe by vulstasies geopper is.
Wat gebeur wanneer jy duisende rande se brandstof by ’n vulstasie ingooi, maar dan nie toegang tot die toiletgeriewe kan kry sonder ’n R5-muntstuk nie? En is dit regverdig om van motoriste te verwag om vir ’n basiese menslike behoefte te betaal?
Dit is die vraag wat onlangs heelwat gesprek onder Herald-lesers ontlok het nadat die kwessie van betaalde toiletgeriewe by vulstasies geopper is.
Die gesprek het veral interessant geraak nadat een motoris sy frustrasie gedeel het oor ’n voorval by ’n vulstasie in Potchefstroom waar hy geld vir toiletgeriewe moes betaal.
Volgens die motoris het hy meer as R2 000 aan brandstof bestee, asook ’n paar ander aankope gedoen. Toe hy egter die toiletgeriewe wou gebruik, is hy meegedeel dat toegang ’n R5-muntstuk vereis.
Omdat hy nie kontant by hom gehad het nie, het hy gevra of die bedrag nie bloot by sy kaartbetaling gevoeg kon word nie. Dit is egter glo nie toegelaat nie.
Die voorval het ’n groter vraag na vore gebring. Moet toiletgeriewe by vulstasies gratis wees, veral vir kliënte wat reeds geld by die onderneming bestee?
Herald-lesers het hul sê gehad
Marlize Groenewald meen die bedrag self is nie noodwendig die probleem nie, solank die geriewe skoon en netjies is en daar toiletpapier beskikbaar is.
Sy meen egter dat ondernemings wat ’n fooi vra, ook meer behulpsaam moet wees deur byvoorbeeld iemand beskikbaar te hê wat kontantnote vir munte kan ruil.
De Villiers Olivier voel weer dat motoriste wat duisende rande aan brandstof bestee, minstens gratis toegang tot die toilette behoort te kry.
“Die man wat net skoon toilette soek sonder om iets te koop, kan R5 betaal,” sê hy.
Henning Venter het ’n ander perspektief en meen dat toegangsbeheer noodsaaklik geword het omdat mense nie altyd die geriewe met die nodige respek behandel nie.
Andre Van Rensburg stem saam dat die misbruik van toiletgeriewe daartoe lei dat vulstasies genoodsaak word om ’n fooi te vra.
Hy meen egter dat daar dan ook seker gemaak moet word dat die geriewe behoorlik onderhou word.
Johan Marnewick wys daarop dat die koste van skoon en bruikbare toilette veel verder strek as bloot toiletpapier.
Volgens hom sluit dit onder meer water, elektrisiteit, skoonmaakmiddels, personeel se lone en herstelwerk in.
“Ek betaal enige tyd iets vir ’n skoon toilet,” sê hy.
Cathy Rutherford Schoonwinkel meen weer dat toiletgeriewe gratis behoort te wees. Sy wys daarop dat al hoe meer mense verkies om nie kontant saam te dra nie en dat motoriste nie altyd ’n R2- of R5-muntstuk byderhand het nie.
Sy verstaan dat die geriewe instandhouding verg, maar meen dat kliënte wat reeds by ’n vulstasie brandstof koop en ander aankope doen, ook toegang tot die toilette behoort te hê.
Liezil Van Der Schyff vra waarom vulstasies nie dieselfde benadering as winkelsentrums kan volg waar openbare toiletgeriewe gewoonlik gratis beskikbaar is nie.
Maar waar staan ons nou eintlik?
Aan die een kant is daar diegene wat meen dat ’n klein bedrag ’n billike prys is om vir skoon, veilige en goed onderhoude toiletgeriewe te betaal. Aan die ander kant is daar motoriste wat voel dat iemand wat reeds ’n betalende kliënt is, nie nog vir ’n basiese gerief behoort te betaal nie.
Miskien lê die antwoord iewers tussen die twee standpunte.
Niemand verwag noodwendig dat ondernemings duisende rande aan die instandhouding van toilette moet bestee sonder om die koste in ag te neem nie. Maar as ’n onderneming wel ’n toegangsfooi hef, behoort daar darem ’n praktiese manier te wees waarop motoriste kan betaal.
Want kom ons wees eerlik, wanneer die natuur roep, wag hy nie noodwendig totdat jy eers ’n R5-muntstuk in jou beursie opgespoor het nie.



