Spysenier ly groot skade na diefstal
‘n Spysenier wat nog net ‘n jaar sy onderneming, “A piece of cake”, bedryf, het R32 000 skade gely nadat daar by sy kombuis ingebreek is.
‘n Spysenier wat nog net ‘n jaar sy onderneming, “A piece of cake”, bedryf, het Sondagoggend, 24 Mei met ‘n skok besef daar is by hom ingebreek nadat sy kombuis in chaos agtergelaat is.
Wiehann Greyling en sy assistente berei kos voor in ‘n ruim, goed toegeruste kombuis wat op dieselfde erf as sy huis in Dassierand geleë is. Toe hy Sondagoggend wakker word, was die kombuis se deur oop en die ligte aan. Die kombuis was deurmekaar, met voorraad uit plek.
Rakke met bestanddele is leeg gesteel en die vrieskas se slot was gebreek. Duisende rand se vleis, hoender en voorbereide pasteie is ook uit die vrieskas gesteel.
Die inbrekers het nie net in die kos belang gestel nie, maar sommer ook sy groot gasstoof, waarop hy groot hoeveelhede kos voorberei het, opgelaai. Kombuisgereedskap soos sy duur messe, gasbottels en ‘n spreilig is ook gesteel.
Volgens Wiehann beloop die skade in die kombuis sowat R32 000. Dit is egter nie al nie. Groot skade is aan die buitemuur van die erf aangerig toe die rowers glo die groot stoof oor die muur probeer tel het.
Die erf waarop die kombuis en huis geleë is, het ‘n ringmuur wat teenaan ‘n groot oop veld grens. Wiehann vertel dat hy al verskeie keer die stadsraad genader het om die lang gras te sny, maar dat dit nooit realiseer nie. “Die lang gras is ‘n sekuriteitsrisiko en skelms kan maklik daarin wegruip.
“Ek het al die burgemeester persoonlik genader waarna hy belowe het dit sal gedoen word, maar niks het daarvan gekom nie,” sê hy.

Nadat ‘n sekuriteitsmaatskappy spore van ‘n voertuig in die veld naby die ringmuur gekry het, is dit duidelik dat die rowers tot teenaan die ringmuur parkeer het en die voorraad en stoof oor die muur getel het. Wiehann bied ‘n beloning van R5 000 aan vir die persoon wie se inligting tot ‘n inhegtenisname sal lei.




