Matriekafskeid sal daar wees!
Daar is ‘n knaende onsekerheid wat by die meeste matrieks heers – gaan daar vanjaar ‘n matriekafskeid wees? Die Herald het met skoolhoofde gesels en is bly om te hoor dat hulle almal nog ten gunste van dié formele afskeidsgeleentheid is.
Met die skielike sluit van skole en onenigheid wanneer dit weer moet heropen, is daar ‘n knaende onsekerheid wat by die meeste matrieks heers – wat van die matriekafskeid? As hulle nóu nog nie weet wanneer die eindeksamen begin nie, wanneer gaan die afskeid dan plaasvind? Sal meer as 50 mense bymekaar toegelaat word? Is die skoolhoofde nog ten gunste van ‘n afskeid te midde al die onsekerheid wat hulle tot dusver moes trotseer?
Die Herald het met plaaslike skoolhoofde gesels om hulle mening en vooruitsigte aan te hoor en ons is bly om te rapporteer dat almal, sonder uitsondering, ten gunste van ‘n matriekafskeid is.
“Natuurlik sal ons alles in ons vermoë doen om dit te laat realiseer,” sê me. Gwen Dunganzich, die skoolhoof van Potchefstroom High School for Girls. Volgens haar sien die matriekmeisies vreeslik uit na hulle spesiale dag. Sy glimlag breed as sy presies vertel hoe hulle dit aan haar bekend gemaak het: “We would like to have a dance with our dates!” Hul matriekafskeid is voorlopig vasgestel vir Vrydag, 2 Oktober sodat dit voor die finale eksamens kan plaasvind. “Maar die datum kan natuurlik verander afhangend van die vlak van inperking se voorskrifte,” voeg sy by.
Die skoolhoof van Volkies, mnr. Terry Nicholenas, is ook vasbeslote om vir sy leerlinge ‘n afskeidsgeleentheid te reël en sê dat daar al verskeie planne op die tafel is. Hy sal egter nie kompromieë aangaan as dit die veiligheid van die leerlinge kan benadeel nie en sal selfs die skool as ‘n venue oorweeg.
Mnr. Antoon Labuschagne van Ferdinand Postma Hoërskool dink ook dat die matriekafskeid beslis een van die hoogtepunte van ‘n matriekleerling se skooljaar is. Hoewel hy nog nie finale planne het nie, is hy baie rustig en wil eers die kat uit die boom kyk. “Alles hang van die vlak van inperking af en die reëls wat daarmee gepaard gaan. As dit daarop neerkom, kan ons in meer as een saal ‘n afskeid hou. Ons kan reëlings tref vir voor of selfs na die eksamen, daarom moet leerlinge nie te vroeg hulle matriekvakansies beplan nie,” sê Labuschagne hoopvol.
Mnr. Carel Meyer, skoolhoof van Potchefstroom High School for Boys is net so positief oor dié feestelike geleentheid: “Ons gaan beslis iets spesiaals reël, al neem dit dalk nie presies dieselfde vorm aan as die vorige matriekafskeid geleenthede nie, bevestig hy.
Die hoof van Hoër Tegniese Skool, mnr. Dries de Beer, wil ook nie die veiligheid van sy leerlinge op die spel plaas nie en kan ook nie sê presies wanneer hulle groot dag gaan wees nie. “Ek het egter volle vertroue in my personeel dat hulle sommer op kort kennisgewing nog ‘n ongewone matriekafskeid kan reël. En ons dink dat ‘n maskerbal nogal heel gepas kan wees,” voeg hy so ewe tong-in-die-kies by.




