Gimmie-matrieks gereed om virus te trotseer
Gimnasium is een van vele hoërskole wat Maandag weer na die lang inperktydperk geopen het. Susan Cilliers het gaan inloer om te sien hoe die matrieks se nuwe leeromgewing met Covid-19 voorsorgmaatreëls daaruit sien.
Wees verantwoordelik en kom die Covid-19-voorsorgmaatreëls na.
Dít was Maandagoggend die boodskap van Roelof Oosthuizen, hoof van Potchefstroom Gimnasium, aan 139 van die 143 matriekleerlinge wat teruggekeer het skool toe. “Ons sal sorg dat julle gereed is vir die matriekeksamen. Moenie kalmeerpille drink net, gaan sit net en werk.”
Potchefstroom Gimnasium is onlangs aangewys as die beste kwintiel 4-skool in Suid-Afrika. Die skool is elke jaar onder die topskole in die provinsie met hul skitter-matriekuitslae. Oosthuizen sê die skool het gedurende die inperkingstydperk probeer om die kinders nie tuis met massas werk te oorweldig nie, maar om dit wat wel gedoen word, behoorlik te doen.
Die matrieks is Maandagoggend gesif met vrae en koorsmeting, voordat hul hande ontsmet is en hulle deur ‘n sanitasietonnel moes loop om die skoolterrein te betree. Op die terrein is daar met blou verf en kleefband kolle en strepe op stoepe gemerk om sosiale afstand aan te dui. Die skool het ook plakkate teen die skoolmure opgeplak waarop simptome van Covid-19 aangedui word.

Die kinders en personeel het elk twee maskers van die onderwysdepartement ontvang, asook seep en ontsmetmiddel, het Oosthuizen gesê. “Heelwat maskers is ook aan die skool geskenk. Ons almal is bly oor die heropening, die onsekerheid was baie frustrerend.”
Xandri van Loon, een van die matriekleerlinge, het gesê sy is opgewonde om terug te wees. “Ek het my maats gemis en ook om besig te wees. Ek ry gewoonlik aktief perd, maar kon dit nie doen tydens die inperking nie. Tydens die inperking het ek elke dag dieselfde tyd opgestaan en ses ure aan my skoolwerk bestee. Ek wil volgende jaar skoonheidskunde studeer.”

Glenville Fransman, ‘n gemeenskapsleier in Promosa, sê met sy matriekdogter, Miché, se terugkeer na Potchefstroom Gimnasium, was hul grootste bekommernis nie die skoolwerk nie, maar veiligheid om die kinders teen Covid-19 te beskerm. “Ons is tevrede dat die skool voldoende maatreëls het. Miché kon goed byhou met die skoolwerk wat per e-pos gestuur is, maar daar is ander kinders in ons gemeenskap wat nie genoegsame internettoegang het of byvoorbeeld toerusting om werk op papier uit te druk nie. Ons het maar uitgehelp of hulle is na internetkafee’s.”

Miché sê dit was heerlik om haar maats en onderwysers die eerste keer weer by die skool te sien, maar dat sy baie bekommerd is oor die virus omdat sterftes en infeksies aanhou toeneem. “Dit was nogal ‘n aanpassing om al die skoolwerk aanlyn te doen omdat ‘n mens nie dadelik iets vir die onderwyser kon vra nie. Die voordeel was weer dat ‘n mens weer kon teruggaan en na stemnotas luister. Ons is baie goed op datum met die skoolwerk en die kinders wat nie toegang tot al die hulpbronne gehad het nie, word nou met ekstra klasse gehelp.”
Miché wil volgende jaar sielkunde studeer.
Soekie Coertzen, ‘n onderwyser by Potchefstroom Gimnasium, het gesê van die onderwysers is al deur hul leerplanne met die matrieks. “Elke onderwyser het ‘n program vir hul kinders gehad wat hulle aanlyn kon volg.”
Dr. Emile Kotzé, bestuurder van die Noordwes-Universiteit se gesondheidsentrum, het aan die matriekleerders gesê hulle moet hulself teen die virus beskerm deur sosiale afstand, die dra van maskers, gereeld hande te was en om hulself gesond te hou. “Moenie skool toe kom indien jy siek is nie. ‘n Klein persentasie mense word baie siek van die virus, maar ons kan nie voorspel wie en hoekom nie. Daar is ook nie medikasie wat dit kan keer nie. Meeste mense word nie baie siek nie, baie van julle kan dit kry en nie eens weet julle het dit nie.”

Kotzé het aan die leerlinge gesê hulle kan verwag om nog ten minste tot Oktober met die streng voorsorg te leef wat nou vereis word, en moontlik self tot volgende jaar omdat ‘n entstof nie binnekort beskikbaar sal wees nie.
Elias Malindi, woordvoerder van Noordwes se onderwysdepartement, het Maandag met die heropening van skole vir gr.7- en matriekleerlinge, gesê al die skole in die provinsie was gereed om oop te maak. “Daar was net ‘n probleem in die Bojanala-distrik (in die Rustenburg-omgewing) waar gemeenskappe van die skole gesluit het omdat hulle kwaad was oor die proses waarvolgens mense aangestel is om die skole vooraf te ontsmet.”




