Kragte en kitare span saam
Dit voel natuurlik, dit voel reg. Soos grondboontjiebotter en stroop, Naas Botha en die Blou Bulle, Tafelberg en Kaapstad.
Francois van Coke en Jan Blohm. Die eerste keer dat ek gehoor het van ‘n samewerking tussen dié twee musikante was vroeër vanjaar tydens ‘n onderhoud met Jan. Ek het onmiddelik besef dit is iets wat eintlik al lankal moes gebeur.
Dit voel natuurlik, dit voel reg. Soos grondboontjiebotter en stroop, Naas Botha en die Blou Bulle, Tafelberg en Kaapstad.
“Jan sê ons het ontmoet in Oppikoppi se boonste bar. Ek was dronk en het hom blykbaar ge-headbutt op sy rug. Gelukkig was hy bly om my te ontmoet en daar was geen vuisgeveg nie,” vertel Francois van Coke, wat Donderdagaand deur middel van Skype met my gesels het.
“Ons het min of meer op dieselfde tyd op die scene gekom, Melkstraat Confessions het in 2004 uitgekom en Fokof se eerste EP het in 2003 uitgekom. So ons was altyd bewus van mekaar maar nooit regtig vriende geraak nie,” vertel hy.
Volgens Francois het sy aanhangers vir hom mettertyd gesê dat hy saam met Jan musiek moet maak. Baie suksesvolle samewerkings met kunstenaars soos Karen Zoid, Spoegwolf, Jack Parrow, Early B en Laudo Liebenberg later het hy besluit om vir Jan uit die bloute te bel.
“Ek probeer altyd saam met kunstenaars werk wat ek respekteer, van hou en darem so bietjie ken. Jan is seker een van die kunstenaars saam wie ek nou gewerk het wat ek die minste geken het, toe ek hom die eerste keer bel. Ek het nie geweet wat om te verwag nie, Jan doen nie baie ‘collaborations’ nie. Ek dink amper hierdie is die eerste een? Maar hy was gelukkig baie opgewonde oor die idee,” verduidelik hy.
Hierdie gesprekke het in Februarie begin, kort daarna het ‘Lockdown’ gebeur. Dit het dinge bietjie moeiliker gemaak maar nie onmoontlik nie. Volgens Francois het hy en Jan op ‘Whatsapp’ begin idees uitruil en begin skryf.
“My band, Die Gevaar, het uiteindelik die musiek neer gelê, ek het lankal ‘n vers en koor in my kop gehad. Ek het vir Jan gevra wat hy daarvan dink en hy was mal daaroor. Hy het nog ‘n vers bygesit en die ‘song‘ was daar. Ons kon nie dadelik bymekaar kom om die video te doen nie. So ons moes ouens gekry het om my af te neem, ander ouens om vir Jan op sy eie af te neem. Sodra ons weer kon het ons ‘n paar skote van ons twee saam laat afneem. So die video is bietjie van ‘n ‘Frankenstein’ wat ons aanmekaar gesit het,” sê hy.
“ek sal altyd probeer
die toekoms is hartseer
loop net deur die deur
altyd
nog meer
die toekoms is beseer
dis verby. dis gekanselleer”
Jou verwagting van ‘n samewerking tussen dié twee kunstenaars word bevredig, veral in die koor wanneer Francois se rasper skree en Jan se kenmerkende bulder saamvloei. Teen die einde van die koor kan jy nie help om jou kop te skud nie. Dit is dalk meer in Francois se kraal as in Jan s’n. Moenie, Groentrui verwag nie, maar ek dink baie mense vergeet hoe hard Jan kan ‘rock’
Waaroor gaan dit? Die titel sê vir jou dit is ‘n lied oor die Toekoms. Die lirieke maak nie vir ‘n mooi prentjie van die toekoms nie.
bring vir my oorlog
bring in die vloed
skree na die hemel
lê in jou bloed
dis wetenskapfiksie
dis Sondag
ohhh lala
almal gaan doodgaan
bring terug die somer
bring terug die lig
die Man in die hemel
die swart hond op my rug
bloedkontrole
outomate evolusie
ohhh lala
bel die polisie
ohhh lala
beheer die revolusie
“Dit gaan oor hoe die wêreld lyk op die oomblik en oor hoe die wêreld kan lyk in die toekoms. En dat dit nie altyd belowend lyk nie, maar mens moet aanhou probeer om die beste mens te wees vir die mense rondom jou,” vertel Francois.
Om so tipe onderhoud van die huis af te doen, met kinders, my eie, wat ook wil saam gesels is om die minste te sê ‘n uitdaging. Gelukkig neem Francois nie aanstoot of raak ongeduldig met die situasie nie. Hy verstaan. Hy het self kinders.
Die temas van die musiek wat hy deesdae maak is nie dieselfde as in 2003 toe hy saam met Fokofpolisiekar, die angs en woede van ‘n generasie luidkeels geskree het nie. Mense soos ek wat met FPK groot geword het, vind aanklank by sy musiek deesdae. Die temas verskil maar die boodskap is dieselfde, dink vir jouself.
“Ek wou nog altyd net eerlik wees in die musiek wat ek maak. Op die einde van die dag, moet ek ook van die musiek hou wat ons maak. Ek is gelukkig omdat ek baie lojale aanhangers het. Hulle is my brood en botter, so ek dink aan hulle ook as ek nuwe musiek maak, maar dit sal nie werk as ek nie eerlik is nie,” vertel hy.
Tydens ‘n onlangse video op Francois se Instagram (@francoisvancoke) het hy gewys hoe om “Dagdrome in Suburbia” te speel. Hy eindig die video met die woorde: “four chords and the truth“.
Dit som sy benadering tot musiek perfek op.
Is daar nog ‘collabs’ oppad?
“Ek en Matthew Mole werk aan iets. Ek en Peach van Pletzen het nou onlangs ‘n ‘song‘ klaar gemaak. Dit is mal, geen genre is off limits nie,”
Dit klink soos Bohemian Rhapsody.
“Ja dit was die mikpunt, die Bohemian Rhapsody van Suid -Afrikaanse musiek.
Die Toekoms musiekvideo sal om 09:00 vrygestel word. Francois gaan op 18 September die lied regstreeks saam met Jan doen. Dit is deel van die Livestream Francois van Coke en Vriende 2020.



