SportSport

NWU se bekerwenner het doel voor oë

"Die blydskap van die span en afrigtingspan kan nie beskryf word nie. Om Maties op hulle tuisveld te klop, maak dit net soveel lekkerder. Dit was ‘n trotse gevoel om die beker terug te bring na die NWU en ons oudspelers trots te maak.”

Om wêreldklas te wees, is iets waarna baie top sportvroue streef. Vir die NWU se raakvat hokkiespeler, Carli Pretorius, is haar betrokkenheid by ‘n top hokkie-institusie en gehalte fasiliteite reeds ‘n stap in die regte rigting om haar hokkiedrome te bewaarheid.

Sy het reeds een groot doelwit bereik toe sy saam met die NWU se 2019 Varsity hokkiespan die Varsity hokkie-trofee ingepalm het. Carli was die NWU se top doelskieter tydens die toernooi en het grotendeels tot die span se sukses bygedra.

“Die beste oomblik op die hokkieveld vir die NWU is sonder twyfel toe ons die 2019 Varsity Cup gewen het. Ons span het sedert 2018 almal saam na een mikpunt toe gewerk. “Maande se harde werk en fokus was alles die moeite werd toe ons die trofee optel,” sê Carli.

Sy doen tans haar NGOS en het reeds ‘n graad in MBW van die NWU agter haar naam.

“2019 Varsity hokkie was vir my ‘n ongelooflike ervaring. Daar was ‘n paar hoogte- en laagtepunte. Ons het die eerste rondte by UCT bietjie gesukkel en vinnig besef ons moet ons sokkies optrek. Toe ons die tweede rondte in Potch voor ons tuisskare gespeel het, het ons tempo opgetel en het dinge ons kant toe gegaan. Ek moes tydens die toernooi ‘n hele paar penalty strokes neem, waarvan die een in die semi-finaal teen Kovsies vir my ‘n hoogtepunt was. Dit het bepaal of ons deurgaan na die finaal,” noem sy.

Carli vertel ook verder dat harde werk en maande se fiksheidsoefeninge ook ‘n belangrike rol in hul bekersukses gespeel het.
Die beste deel van die oorwinning was om te weet ons harde werk en fiksheid het afbetaal. Elke blou kol, elke ekstra uur van oefen en elke ekstra videosessie was alles die moeite werd toe ons die finaal wen.

“Die blydskap van die span en afrigtingspan kan nie beskryf word nie. Om Maties op hulle tuisveld te klop, maak dit net soveel lekkerder. Dit was ‘n trotse gevoel om die beker terug te bring na die NWU en ons oudspelers trots te maak.”

Haar liefde vir hokkie het reeds vroeg met mini-hokkie begin en al was haar klere effens te groot, was haar passie vir die spel nog groter.
“My tokse was te groot en my rompie het oor my knieë gehang, maar ek kon nie genoeg kry nie, want my eerste afrigter, Inke van Wyk (oud Puk speler) het die liefde vir hokkie by my gekweek,” onthou Carli.

Nou is Carli en die res van haar spanmaats eers van die Astro af en moet op alternatiewe maniere hulle hokkievaardighede opskerp in die “lockdown” tydperk.
“Lockdown het beslis ‘n invloed op my hokkie en hoe ek oefen. Gelukkig het ons sportwetenskaplike, Thomas Jardine, baie moeite gedoen en vir ons ‘n program uitgewerk met uitdagings en maniere om nog steeds voluit te oefen met die beperkte spasie.
Ons afrigters, Shaun (Hulley) en Nelson Khomane-Nel hou ook baie zoom meetings om seker te maak almal bly positief en gemotiveerd,” vertel sy.

Dié oud Menlopark-matrikulant, wat in 2016 die Noordvaal-liga op skool gewen het, se doelwitte sluit in om weer die NWU op die hokkieveld te verteenwoordig en die Varsity hokkie-titel te kan verdedig. Verder noem sy dat sy deur die jare ook gedurig inspirasie by verskillende spelers kry, wat haar gemotiveerd en gefokus hou.

Baie afrigters het my op verskillende maniere geïnspireer deur my hele hokkieloopbaan. Op Hoërskool het ek inspirasie gekry deur na internasionale spelers te kyk soos Ellen Hoog en Delfina Merino.

Op universiteit het ek inspirasie gevind by die meer senior spelers in my span soos Jessica de Bruyn-Smith en Amore de Wet. Hulle het my die waarde geleer van NWU hokkie.”
Volgens Carli is daar net een plek wat sy as haar hokkietuiste sien en dit is in Potchefstroom op die Astro in Gerrit Dekkerstraat.

“NWU se hokkie is baie spesiaal. Eerstens die fasiliteite is fenominaal en wêreldklas. Ons afrigters doen verskriklik baie moeite om die beste uit elke speler te kry – hulle skep vir ons ongelooflike geleenthede en hanteer ons soos high performance athletes om seker te maak ons bereik ons hoogste potensiaal.”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button