ML Fick se skoolhoof sê totsiens maar nie vaarwel
Na 35 jaar en ses maande in die onderwys tree die skoolhoof van Laerskool ML Fick, Lourie van der Merwe, op 60-jarige ouderdom af.
Na 35 jaar en ses maande in die onderwys, het die skoolhoof van Laerskool ML Fick, Lourie van der Merwe, besluit om op 60-jarige ouderdom af te tree. Dinsdag, 30 Junie was sy laaste dag by die skool.
Dit was egter nie ‘n besluit wat oornag geneem is nie, want sedert hy klaar studeer het, het hy reeds besluit dat hy die tuig op 60 sou neerlê.
“Ek en my vrou glo dat die tyd wat die Here vir ons na 60 gee, ‘ons’ tyd is,” sê hy. Hy sien baie uit na ‘n rustiger lewenspas en sy oë blink wanneer hy oor sy gholfplanne praat. “Ek gaan nie stilsit nie, hoor. Woensdae, Vrydae en Saterdae is ek op die gholfbaan en dan is daar altyd goed in en om die huis om te doen. ‘n Huis is mos nooit klaar nie,” sê hy. Lourie gaan steeds deel van die Potchefstroom Buiteklub se gholfbestuur wees, waar hy die voorgee ligas bestuur en die administrasie van die lede se voorgee waarneem.
Hy lyk gemaklik en rustig daar waar hy agter sy groot lessenaar in sy kantoor sit. Dis net die netjies opgestapelde hopies papier en lêers wat verklap dat hy besig is om sy goedjies op te pak. En dan sê hy meer ernstig: “Ek het nogal gemengde gevoelens. Dis nie maklik om na al die jare vir soveel vriende totsiens te sê nie. Gelukkig is dit net totsiens en darem nie vaarwel nie. Hulle moet my maar bel as ek kan kom inloer.”
Vir Lourie was sy kollegas meer soos vriende. Die meeste van hulle getuig dat hy nie ‘n skoolhoof op ‘n troon was nie. Dis net die jonger garde wat hom meneer noem. Die ander het hom op sy voornaam aangespreek.
Lourie se leuse vir sy leerlinge is dat ‘n mens nooit bang moet wees om hard te werk nie. Die aanhaling van Thomas Edison wat hy op die skool se webblad uitgelig het, fokus hierop en getuig ook van sy goeie sin vir humor: “Geleenthede gaan by die meeste mense verby omdat dit ‘n oorpak aan het en na werk lyk.”
Hy glo dat ‘n skool nie met reëls bestuur moet word nie, maar met goeie waardes wat van vroeg af, verkieslik al by die ouerhuise, vasgelê moet word. “Wanneer die waardes by die huise dieselfde as by die skool is, sal dit onderwysers baie help. Ons almal streef daarna om die leerlinge in die skool meer bewus te maak van goeie waardes soos respek, omgee vir ander, selfdissipline, verantwoordelikheid, deursettingsvermoë en die menige ander waardes wat so belangrik is,” vertel hy.
Dis juis dié waardes wat ‘n mens deur moeilike tye regop hou en help fokus op dinge wat belangrik is. Lourie, sy vrou Riëtte en hul oudste dogter Rolé, het deur ‘n baie moeilike tyd geworstel toe die jongste lid van die gesin, Lené, skielik ín ‘n motorongeluk dood is. Lené en haar vriend, Cori de Beer, is in 2009 in Tzaneen op slag in ‘n motorongeluk dood. Hulle albei was 22 jaar oud.
“Hulle sou in 2010 trou, toe begrawe ons hulle. Vir ouers is dit nie maklik om die dood van ‘n kind te verwerk nie, maar die lewe gee jou ook nie veel van ‘n keuse nie. Ek het vir myself gesê jy kan sit en wag om self dood te gaan, of jy kan lewe ter wille vir jou vrou en dogter. Gelukkig gee die Here vir jou krag om so ‘n groot skok te verwerk,” vertel Lourie verder.
Hul ander dogter Rolé, bly tans by hulle in Potchefstroom en is ‘n geoktrooieerde rekenmeester en senior dosent aan die Noordwes-Universiteit.
Hoewel onderwys nuwe uitdagings het omdat elke generasie maar van die voriges verskil, sê Lourie dat onderwys inherent steeds dieselfde bly. Vir hom was die lekkerste van skoolhou daardie “Eureka-oomblik” wanneer kinders ‘n konsep verstaan. Hy was vir jare ‘n wiskunde onderwyser voor hy hoof geword het. “Dit is ‘n voorreg om vir kinders iets te leer,” sê ‘n oplettende, gebalanseerde skoolhoof wat die lewe nie as vanselfsprekend aanvaar nie.
Voor ons uitstap, stel hy my aan die adjunkhoof, Heyns Deacon, voor wat die leisels tydelik by Lourie oorneem tot die nuwe hoof amptelik aangestel is. Ons neem foto’s in die voortuin by die pragtige ysterkoedoes wat Lourie vir die skool aangekoop het.

Die twee bokke by die ingang is baie mooi en gepas, selfs al is jy nie bewus van die koedoe-embleem van die skool nie.
Buite raak mens eers van die pragtige ou skoolgebou met die hoë dak bewus en dan besef jy dat dit 130 jaar oud is – die oudste bestaande Afrikaanse skool in Potchefstroom.




