AfriForum keer dat ons nie in slaggate trap
Dirk Venter, Christo van der Walt en Barry Jacobs, taklede van AfriForum, trotseer die koue wintersoggende om slaggate te herstel.
Indien jy gewonder het wie die slaggate in die stad so netjies herstel – dit is Dirk Venter, Christo van der Walt en Barry Jacobs. Hierdie lede van die AfriForum-tak in Potchefstroom trotseer weekliks tussen 06:00 en 09:00 die koue wintersoggende om die paaie vir ons gelyk te maak.
Ondanks die nasionale inperking wat herstelwerk bemoeilik (en Venter wat boonop ’n hartoperasie moes ondergaan) het die tak vanjaar reeds 575 slaggate herstel – en meer as 6 100 oor die afgelope drie jaar.
“ AfriForum kan nie agteroor sit en toekyk hoe die dorp verval nie. Daar is krag in ’n gemeenskap wat saamstaan om ’n verskil te maak en ek hoop daarom dat ander lede van die gemeenskap by die tak sal inskakel om ’n nóg groter verskil te maak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.
Kontak vir Dirk Venter by 082 953 3155 of Christo van der Walt by 083 644 6194 om by die slaggatprojek betrokke te raak.





