Transnet-geboue huisves plakkers – veiligheidsrisiko vir woonbuurt
Die eens netjiese rooibaksteengeboue van Transnet langs die treinspoor in Piet Bosmanstraat is deur vandaliste gestroop en ‘n groep straatkinders en boemelaars is besig om die gebou te beset.
Volgens inwoners van die omgewing het die misdaad toegeneem nadat Smart Stone, ‘n maatskappy wat boumeteriaal verkoop, in Junie verlede jaar uit die geboue getrek het.
Albert en George Bothma van die Snowflake-gebou het Woensdag, 8 Julie gemerk dat groot dele in die draadheining wat die Transnet-geboue van die Snowflake-gebou skei, stukkend geknip is. Nadat hulle ondersoek ingestel het, het hulle gemerk dat mense in en uit die Transnet-geboue beweeg. Hulle was geskok toe hulle die haglike toestand sien waarin die geboue tans is.

Volgens Albert het sowat 40 mense hulle intrek in die geboue geneem. Die kamers is vol van hulle klere en karige besittings, afvalmateriaal word tussendeur gestort en omdat daar nie toiletgeriewe is nie, word die plek met menslike afval, wat oop en bloot lê, besmet. Toe die onwettige besetters Albert en George sien, is hulle met klippe bestook.
Thinus Marais, eienaar van Smart Stone, sê hy het vir 10 jaar die geboue van Transnet Property Services gehuur en moes dit op eie onkoste onderhou. Hy het aansoek gedoen om die geboue by Transnet te koop, maar hulle het die ooreenkoms bly uitstel totdat Transnet uiteindelik wetgewing ingestel het dat geen van hulle geboue aan privaateienaars verkoop mag word nie. Volgens hom was die gebied al gevaarlik toe hy daar gehuur het, want hy is telkemale besteel. “Oor die jare het ek seker R750 000 se skade aan diefstal gehad,” sê hy. Hy het besluit hy het genoeg gehad toe daar verlede jaar vir die soveelste keer by hom ingebreek is. “Nadat ek uitgetrek het, het ek foto’s van die skade aan die geboue vir Transnet gestuur, maar het geen terugvoer van hulle gekry nie,” vertel hy.

‘n Tegnikus van Transnet wat nie sy naam genoem wil hê nie, sê dat hy nooit agtergekom het dat daar mense ingetrek het nie. Hy sê dat die treinstasie die afgelope tyd gereeld onder kabeldiewe deurgeloop het. Die kabels wat gesteel word, veroorsaak dat die sinjale nie werk nie. Volgens hom is dit die grootste oorsaak van die vertragings in die treindienste. Dit is ook baie gevaarlik omdat treine selfs hierdeur kan ontspoor.
Morné van den Bergh wat langs die treinspoor in Kampstraat naby die Snowflake-gebou woon, sê daar is ‘n plakkershut wat aan die agterkant van sy huis opgeslaan is. Dit is tussen die huis en die treinspoor. Hy vermoed dit is sekuriteitswagte van Transnet wat daarin skuil, omdat hulle dieselfde reflekteerbaadjies dra. Hy is bekommerd oor die vuur wat hulle daar maak, want hy het ‘n buurman met ‘n grasdaklapa teen die agterste muur wat maklik kan vlamvat.

Kwaaddoeners wat van die treinspoor se kant af sy erf binnegekom het, het hom al duisende rande se skade berokken. Rypdoeke en stoelkussings word vanaf sy voorstoep gesteel. Die asblik wat hy tydens sy braaisessie gebruik, is al binne sy swembad uitgegooi. Sonpaneelgedrewe buiteligte is netjies uitgeskroef en met paneel en al afgesteel. Toerusting van werkers wat stene lê is snags vanuit sy erf gesteel. Kort-kort is iemand in die erf wat snags rondbeweeg opsoek na enigiets van waarde om te steel of net te verniel. “Ek moet nou elke aand seker maak my tuinslang, ornamente en potplante is toegesluit. Die indringers brand letterlik enigiets waarop hullle hul hande kan lê wat lei tot gesondheidsprobleme en ongemak binne jou eie huis,” kla Morné.
Albert Bothma vertel ook van die skade wat hulle in die afgelope maande by Snowflake gehad het. Daar is by ‘n asbesgebou ingebreek en sowat 600 plastiese stoele is gesteel. By ‘n ander geleentheid is die kasregisters en drankvoorraad van die onthaalvenue gesteel. Hy het al duisende rand se skade gely van masjinerie se onderdele wat gesteel is en twee trokke wat agter die gebou geparkeer was, se enjins wat ook gesteel is. “Mooirivier Beskerming ontvang byna elke aand ‘n alarm-waarskuwing wat dui dat daar mense om die gebou loop,” sê Albert.
Die inwoners wat deur die misdaad geraak word, is dit eens dat die besetters uitgesit moet word, plakkers langs die spoorlyn verwyder moet word en die geboue van Transnet gesloop moet word om te keer dat dit in die toekoms weer beset word.
* Potch Herald het Transnet se provinsiale kantore, wat veranwoordelik is vir die bestuur van hul eiendomme, verlede Woensdag, 8 Julie om kommentaar genader. Hulle het teen die tyd van dié plasing nog nie op die vrae van die Herald gereageer nie. Ons onderneem om wel in die volgende uitgawe van die Herald koerant (Donderdag, 16 Julie) hulle kommentaar te plaas.






