SportSport

Uit die Argief: La Furia Roja verf Potch behoorlik rooi

Die impak wat Spanje se koms in Potchefstroom destyds gebring het, word nog steeds vandag gevoel.

Dit is nou al ‘n dekade sedert Spanje die 2010 Sokkerwêreldbeker in Suid-Afrika gewen het. As ‘n mens terugdink is dit nou nog meer spesiaal as ooit dat hier so massiewe sportbyeenkoms so suksesvol plaasgevind het.


As ‘n mens in Potchefstroom rondry sal ‘n mens nog steeds op padborde ‘n tikkie Spaans sien wat destyds vir die Spaanse sokkerspan opgerig is. Spanje het hulle hoofkwartier in Potch opgerig vir die duur van die toernooi.


Die impak wat Spanje se koms in Potchefstroom destyds gebring het, word nog steeds vandag gevoel. Die fasiliteite moes daardie tyd opgeskerp word en op hede het die NWU en die Sports Village waar die span gehuisves was, van krag tot krag in terme van professionalisme en gehalte gegaan.
Die Potchefstroom Herald se sportjornalis, Bertie Jacobs, het destyds land en sand oor die Spanjaarde se koms, besoek en vertrek berig. Die voorsitter van die plaaslike organiseringskomitee, Prof. Annette Combrinck, was ook in haar noppies met hoe goed die Spanjaarde in Potch aangepas en dit as hul tweede tuiste omskep het.


Natuurlik was dit ook goed vir Potch se ekonomie met baie toeriste en ondersteuners wat gereeld die Spaanse oefensessies bygewoon het om al hulle gunsteling sterre van naby af te bekyk.
My niggie, het ook al die pad na Potch vanaf Midrand gery om haar gunsteling spelers soos Fernando Torres en Cesc Fabregas te sien.


Ander spelers wat ook die oog getrek het was Iker Casillas, Sergio Ramos, Carles Puyol, David Villa sowel as Xavi en Andres Iniesta. Potchefstroom kon nie genoeg kry nie en natuurlik soos Spanje verder in die toernooi gevorder het, het belangstelling gegroei.
Natuurlik het die belangstelling in sokker ook in die dorp gegroei met Bafana Bafana se welslae wat gevier is, maar teleurstellings ook betreur is. ‘n Goeie voorbeeld was die reaksie van ondersteuners toe SA vir Frankryk met 2-1 geklop het. Dit was wel nie genoeg om SA na die uitkloprondtes te bring nie.


So skuif die aandag toe weer na Spanje toe en in daardie finaal op Soccer City in Johannesburg op 11 Julie teen Nederland was talle Potchefstromers vir 120 minute tydelike Spaanse burgers.
Iniesta skop die wendoel in die 116de minuut en ‘n paar minute later is Spanje vir die eerste keer in hulle geskiedenis kampioene.
Nou 10 jaar later is Potch trots om te noem dat ‘n Wêreldbekerwenner by Potch gehuisves was.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Potchefstroom Herald in Google News and Top Stories.

wouterpienaar01

I am the editor of the Potchefstroom Herald since January 2026. I have a keen interest for sport and local community news. I have more than a decade of experience covering various beats. Journalism is a lifestyle.

Related Articles

Back to top button