Potch Akademie maak skoon op Mandeladag
Potchefstroom Akademie en SAAHST het op Mandeladag die "vliegtuigparkie" in OR Tambostraat skoongemaak en besluit om dit skoon te hou. Hul daag Potchefstroomse besighede uit om dieselfde te doen.
Personeel van Potchefstroom Akademie en SAAHST (South African Academy of Hair and Skincare Technology) het Saterdag, 18 Julie op Mandeladag moue opgerol en die vuil parkie op die hoek van Van der Bent- en OR Tambostraat (regoor Eb’s Hardeware) skoongemaak. Lektore, administrasiebeamptes en bestuurslede het nie net 67 minute van hulle tyd aan dié goeie daad spandeer nie, maar het van 10:00 – 13:00 die hope rommel opgeruim wat dit ʼn seeroog gemaak het.
Volgens Tina Scholtz, besturende direkteur van die skoonheidsakademie, probeer hulle elke jaar ʼn gemeenskapsbydrae op Mandeladag lewer. “Ons personeel het besluit dat Covid-19 hulle nie gaan afsit nie. Die parkie word blykbaar nie meer skoongemaak nie. Van ons studente bly in die omgewing en dit is vir ons ʼn verleentheid dat hulle in so ʼn besoedelde omgewing moet beweeg”, sê Tina.
Die Potchefstroom Akademie hou reeds die omgewing rondom hulle kampus skoon en het nou besluit om die parkie vorentoe ook in te sluit. “Die tuindienste, Boerseun het in ʼn wonderlike positiewe gebaar aangebied om te help. Dit sal wonderlik wees as meer besighede ook so ʼn stukkie van ons dorp aanneem om so ons dorp mooi te hou”, daag Tina ander uit.
*Regoor die wêreld het mense Saterdag, 18 Julie as Mandeladag gevier. Dié spesiale dag het die Verenigde Nasies in 2009 as Mandeladag afgevaardig waar hulle mense nooi om op Nelson Mandela se verjaarsdag 67 minute aan ʼn goeie daad in hul gemeenskap te spandeer. Die 67 minute is simbolies die 67 jaar se diens wat Nelson Mandela aan maatskaplike geregtigheid in Suid-Afrika en regoor die wêreld gewy het.






