Herrie in stad oor beurtkrag
Die Herald het verskeie oproepe van ontstoke inwoners van veral Miederpark en die Suiddorp ontvang omdat gebiede soos Grimbeekpark, Vanderhoffpark en Bailiepark se krag volgens hulle nie tydens Potchefstroom se geskeduleerde beurtkragtye afgaan nie.

“Dit is onregverdig. As daar beurtkrag moet wees, dan moet almal mos hulle deel doen? Hoekom is dit net aan hierdie kant van die stad waar ons altyd die volle beurtkrag moet ervaar?”
So sê ‘n ontstoke inwoner nadat ‘n herrie onlangs losgebars het oor die implementering van beurtkrag deur Eskom.
Die Herald het verskeie oproepe van ontstoke inwoners van veral Miederpark en die Suiddorp ontvang omdat gebiede soos Grimbeekpark, Vanderhoffpark en Bailiepark se krag volgens hulle nie tydens Potchefstroom se geskeduleerde beurtkragtye afgaan nie.
Potchefstroom se geskeduleerde beurtkragtyd vir Sondag was van 08:00 tot 12:30.
WhatsApp-groepe en sosiale media het gegons omdat slegs sekere woongebiede se krag af was. Volgens een van die inwoners is dit reeds sedert Julie ’n probleem omdat slegs die woongebiede aan die suidekant van die stad deur beurtkrag geraak word. Nog ‘n inwoner op ’n groep het beweer dat daar twee toevoerpunte vanaf Eskom na Potchefstroom is, wat sou kon verduidelik waarom sekere woongebiede se krag aan was en ander s’n nie.
’n Inwoner van die Suiddorp het gesê as daar twee toevoerpunte is, waarom daar nie verskeie skedules is nie? Volgens Jeanne Adriaanse, wyksraadslid, was daar tog gedeeltes van Grimbeekpark wat tydens beurtkrag af was.
“Die nuwer gedeeltes van Grimbeekpark se krag was ook af,” het sy gesê. Willie van Eeden was so omgekrap oor die situasie dat hy ’n petisie opgestel het vir mense wie se krag altyd af is, om te teken.
“Ons soek antwoorde. Wie besluit watter gebiede se krag word afgesit? Hoekom elke keer dieselfde gebiede? Mense kan die petisie by Evansstraat 3 kom teken,” het van Eeden gesê.
* Die Herald het by Eskom en die munisipaliteit nagvraag gedoen oor die situasie, maar teen druktyd het nie een van die instansies op die navraag gereageer nie




