Bont klomp neem Potch op horings
As jy al die ‘studentevolkslied, Vat my Terug gehoor het, het jy seker al gehoor van die, soos die Engelse sê, motley crew, Where’s Waldow.

As jy al die ‘studentevolkslied, Vat my Terug gehoor het, het jy seker al gehoor van die, soos die Engelse sê, motley crew, Where’s Waldow.
Met die intrapslag vir ons onderhoud besef mens hierdie is nie net nog ‘n ‘band’ nie. Die uiteenlopende persoonlikhede en style wat na die tafel gebring word, is duidelik.
Soos die verskillende kleure van ‘n bontebok bymekaar invloei, vloei die verskillende lede van Where’s Waldow ook inmekaar in om iets uniek te maak. Die groep bestaan uit Waldo Erasmus, hoofsanger (21), Erika Botha, baskitaarspeler (21), Tharina Barnard (20), Zander Botha (24) en Ivan Lewis (21).
Vat my Terug is tans seker hulle bekendste liedjie, ’n ware tema vir studente in Potchefstroom. Dit is ’n lighartige kyk na die lewe van ’n tipiese student in die stad. Die liedjie met sy reggae-ritmes is pret. Dit som die groep mooi op.
Hulle geniet dit om musiek te maak.
“Ons hou van die musiek wat ons maak. Ons geniet dit,” verduidelik Erika.
“Daar is verseker ’n passie vir musiek wat ons almal deel,” voeg Waldo by.
Om vinnig uit die vuis te dink aan ’n meer diverse musiekgroep, kom slegs Mango Groove by ’n mens op.
Hoe het die groep kunstenaars by mekaar uitgekom?
“Ek was saam met Waldo by ’n ander groep betrokke en dit het maar so met tyd in Where’s Waldow in transformeer,” vertel Zander.
Volgens Waldo het die ander lede se talent hom na hulle toe gelok.
“Die eerste keer wat ek gehoor het hoe speel Erika baskitaar het ek geweet sy moet deel van ons groep wees. Dieselfde met Tharina. Toe ek haar harmonieë op die klawerbord hoor, moes ons haar vra om deel te wees,” lag Waldo.
“Dit was eintlik vir my so ‘n groot voorreg omdat ek vanjaar eers by die groep ingeskakel het. Ek het hulle verlede jaar by Texas Rock Bar gesien speel en dit was vir my regtig ongelooflik. So toe hulle my vra, moes ek ja sê,” vertel Tharina.
Die groep het in Februarie 2019 hulle eerste optrede gehad en het byna dadelik ’n gevolg onder Potch se studente begin ontwikkel.
“Nou die dag was ek by ’n braai en iemand sê vir my, ‘jy is die ou wat Vat my terug sing’,” spot Waldo.
Ongelukkig het die inperkingstyd ook beteken dat die groep nie op hulle vroeë sukses kon bou nie.
Hulle is gelukkig terug in Potchefstroom en was Dinsdagaand by Texas op die verhoog, as deel van die weeklikse Jou Ma se Potch-vertonings.
Die vertoning het die skare byna van die begin tot die einde op hulle voete gehad. Dit was uiteindelik die lied Vat my terug wat die aand vir die groep beklink het. Die energie van die vertoning was teen ’n verbrekende pas. Dit spreek duidelik van die passie wat die groep vir hulle musiek het.
As Where’s Waldow hierdie momentum kan behou sal daar ongetwyfeld weer in die toekoms van hulle gehoor word.

“Ons probeer ’n volle produksie lewer, nie net die gewone agtergrondmusiek nie. Ons wil hê mense moet na die tyd na ons toe kom en vertel hoe baie hulle dit geniet het,” sê Waldo.
Die idee van genre-lose musiek is iets wat werklik begin posvat. Die gewone boksies waarin musiek geplaas word, word stelselmatig afgebreek. Where’s Waldow val presies in die soort van genre-lose genre in. Die feit dat elke lid van die groep ’n ander musikale agtergrond en invloed het, speel ’n beduidende rol in die musiek wat hulle maak.
Almal is dit eens dat daar nog nooit werklik konflik tussen die lede was nie.
“Ons vertrou mekaar en vertrou op mekaar se talente. Omdat daar daardie vertroue is, is dit maklik om oopkop na ander idees te luister. As dit werk, dan doen ons dit,” sê Erika.
Volgens Erika aanvaar hulle mekaar as musikante.
“Vir my was dit verfrissend dat ek as vrou op die krag van my musikale vermoëns aanvaar is. Daar is geen macho-kultuur nie, wat nie oral die geval is nie,” verduidelik sy.
“Is daar meisies in die groep? Ek het nie eers agtergekom nie,” spot Zander.
‘n Mens word gelaat met die idee dat daar ’n dryfveer is wat deur passie aangevuur word.
Dit is hierdie passievlam wat die toekoms vir Where’s Waldow, rooskleurig maak.




