Boekprojek maak groot verskil by Kalahari-skole
Kittie en haar man Daan, het toe die pad na die Kalahari aangedurf om die talle interessante en insiggewende boeke tesame met splinternuwe boekrakke af te lewer.
Dankbaarheid was aan die orde van die dag by drie Nood-Kaapse skole toe Potchefstromers, Kittie en Daan Vorster, met hulle boekprojek verlede week sowat 2 000 boeke afgelewer het.
Kittie het skole in Olifantshoek, Deben en Van Zylsrus geïdentifiseer wat ‘n broodnodige behoefte aan boeke het.
Sy het toe met behulp van ‘n groot skenking van ou boeke in Hoër Volkskool Potchefstroom se besit, haar droom verwesenlik om die boeke vir die behoeftiges te kan aflewer.
“Dit was wonderlik om te sien hoe dankbaar en entoesiasties die hoofde, onderwysers en lede van die beheerligaam oor die boeke is. Een van die onderwyers kon ook nie glo dat ons hulle skool gekies het om die boeke te skenk nie,” vertel Kittie.

Die adjunkhoof by Laerskool Deben, Tumi Louw, was ook in haar skik met die nuwe boeke en boekrakke en het ook genoem dat hierdie boekprojek haar eie leesprogram ‘n hupstoot sal gee.
Sy het gesê dat hierdie boeke nou mooi by hulle leesprogram gaan inpas. “Dit sal vir my lekker wees as daar ook nou meer voorlesings by die skole sal plaasvind,” het Kittie bygevoeg.

In 10 September se uitgawe van die Potchefstroom Herald het Kittie vertel hoe die idee van die projek by haar ontstaan het en hoe sy beplan om met hierdie projek behoeftige skole te help om ‘n leeskultuur te skep, aangesien daar ‘n gebrek aan boeke by dié skole is.
Sy en haar man Daan, het toe die pad na die Kalahari aangedurf om die talle interessante en insiggewende boeke tesame met splinternuwe boekrakke af te lewer.
Willem van Tonder en Wilana Pieters van Van Zylsrus was ook net so entoesiasties en vreugdevol oor die klomp nuwe boeke wat ‘n verskeidenheid temas dek.
“Willem was veral bly oor die boeke wat kuns en beeldhouwerk bevat, aangesien dit iets is wat die kinders prakties kan leer,” vertel Kittie.
“Dit was vir my persoonlik ‘n besondere tyd waar ek die Here se teenwoordigheid in alles kon voel. Die kinders kan nou boeke lees en weet dat die wêreld uit meer as net hulle dorpie bestaan.”
Potchefstromers kan ook van Kittie se boeke aanskaf wat deel is van haar boekprojek.
Vir navrae kan Kittie by 082 711 1756 gekontak word.
https://www.citizen.co.za/potchefstroom-herald/77931/vanuit-potch-tot-in-kalahari-met-barmhartige-boekprojek/







